
Verskeie belanghebbendes meen die verhoging in die ongewilde suikerbelasting ondermyn die gesamentlike pogings deur die regering en die suikerbedryf om broodnodige winste te behaal wat deur die suikerriet-waardekettingmeesterplan tot 2030 in die vooruitsig gestel word.
“Sedert die bekendstelling van die suikerbelasting in April 2018 het die bedryf inkomste van ongeveer R1,2 miljard per seisoen verloor. Voor die ondertekening en toepassing van die meesterplan in Januarie 2021 was die suikerbedryf reeds in die moeilikheid weens ernstige probleme soos droogte, die invoer van gestorte suiker, onvoldoende tariewe op ingevoerde suiker en die suikerbelasting,” sê me. Sindi Mabaso-Koyana, onafhanklike voorsitter van die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (SASV), in reaksie op die verhoogde suikerbelasting.
MAATSKAPLIK-EKONOMIESE IMPAK
In ’n verklaring sê die SASV ’n onafhanklike studie van die maatskaplik-ekonomiese impak van die suikerbelasting in 2017 deur die buro vir voedsel- en landboubeleid het bevind dat, sodra hierdie belasting ingestel is, sou die nasionale vraag na plaaslike suiker met 200 000 ton per jaar afneem. Daar sou verdere ’n afname van 13 200 ha in plaaslike suikerrietproduksie en 3 129 werksverliese in die suikerrietverbouingsektor wees.
“Daarbenewens is in die finale verslag van die onlangse studie in opdrag van die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad bevind as gevolg van die suikerbelasting het die suikerrietboerdery- en suikerverwerkingsektor teen 2019 gesamentlik 9 711 poste verminder en hul bydrae tot die bruto binnelandse produk het met R1,19 miljard per jaar afgeneem.”
GEEN IMPAK
Mnr. Andrew Russell, voorsitter van die SA Suikerrietkwekersvereniging, sê hy en mede-suikerrietkwekers is “diep teleurgesteld” oor Godongwana se aankondiging dat die suikerbelasting van 2,21 sent tot 2,31 sent per gram suiker in suikerversoete drankies verhoog sal word ten spyte van geen bewyse wat tot dusver gelewer is dat dié belasting vetsugvlakke verlaag het nie.
“Onlangse navorsing in opdrag van SA Suikerrietkwekers toon dat die handhawing van die suikerbelasting op die huidige vlak die bedryf ’n verdere 15 984 seisoenale en permanente werkgeleenthede sou kos, en daartoe bydra dat die oppervlakte onder suikerriet oor die volgende tien jaar met 46 000 ha kan afneem. Die verhoging in die belasting beteken dat daar selfs meer werksverliese en ’n verdere vermindering in die hektare onder suikerriet sal wees.”
Hy voeg by dat SA Suikerrietkwekers ’n vergadering met Godongwane gaan aanvra om die verhoging van die suikerbelasting te bespreek.
Dr. Siyabonga Madlala, uitvoerende voorsitter van die Suid-Afrikaanse boere-ontwikkelingsvereniging (Safda), wat hoofsaaklik kleinskaalse suikerrietkwekers as lede het, het die verhoging as ’n “klap in die gesig” vir dié produsente beskryf.
“As Safda sien ons hierdie optrede deur die nasionale tesourie as ’n verbreking van die maatskaplike verdrag met alle deelnemers en belanghebbendes in die suikerwaardeketting wat die suikermeesterplan ondersteun en onderteken het.
“Die regering verloën sy deel van die ooreenkoms. Ons wonder of die suikermeesterplan nog van sy doelwitte sal bereik as dié maatskaplike ooreenkoms verbreek is. Ons boere wat tasbare voordele van die plan begin sien het, sal waarskynlik ernstige verliese ly.”