
Teen einde 2018 het boere se skuld by die groot kommersiële banke wat hulle op die landbou toespits, altesaam R148,3 miljard beloop, sê mnr. Pierre Venter, hoofbestuurder van menslike nedersettings by die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa). Die volgende syfers wat die stand van sake tot einde Desember 2018 weerspieël, sal eersdaags bekend gemaak word.
Boerderyskuld beloop volgens dokumente van Basa en die Land Bank sowat R200 miljoen. Dus lyk dit asof kommersiële banke tot 74% van dié skuld dra.
“Natuurlik beïnvloed die droogte die potensiële terugbetaalvermoë van sekere produsente en loop die banke die risiko dat meer lenings nie gediens kan word met rentebetalings en skulddelging nie,” sê dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz.
Banke gebruik deponeerders se geld om dit te leen aan entrepreneurs, boere in hierdie geval, en vra ’n hoër rentekoers as wat hulle aan deponeerders betaal. Só verdien hulle ’n inkomste en maak hulle wins, sê Purchase.
Tuimeltrein
In ’n gewone sake-omgewing kan die onderneming ná ’n maand of twee se swak verkope weer gelykspeel, maar in byvoorbeeld saaiboerdery het die boer net een kans per jaar om sy verlies te verhaal en sy skuld terug te betaal, sê dr. Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en bemarking by Graan SA.
“Die afgelope paar jaar was soos ’n tuimeltrein vir die landbou met drie uit die vyf jaar wat droogte opgelewer het. Die gevolg is boere se reserwes is uitgeput en verskeie kredietmeganismes het opgedroog.”
In die distrik Bultfontein in die Wes-Vrystaat het opeenvolgende droogte en dalende graanpryse daartoe bygedra dat tientalle boere nie tans hul skuld by kommersiële banke kon vereffen nie en ook nie meer lenings kry om verder te produseer nie. Maar weens die daling in die waarde van grondpryse in die distrik was die prys wat op veilings aangebied is, in sommige gevalle nie genoeg gewees om die verbande op die grond af te los nie.
Die banke werk ook in ’n baie streng regulatoriese omgewing, met spesifieke verwysing na die Nasionale Kredietwet (Wet 34 van 2005) wat roekelose kredietverlening as ’n oortreding beskou, sê Purchase.
“Banke het dus ’n verpligting om te verseker dat hul kliënte oor die terugbetaalvermoë beskik om hul verpligtinge na te kom, ook wanneer omstandighede teen hulle draai soos met die erge droogte wat tans ondervind word.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.