
Die hof moes halt roep op nog een me. Barbara Creecy, van minister van omgewingsake, bosbou en visserye, se besluite. Dit volg nadat sy ingestem het om die junior mynmaatskappy Manzolwandle Investments se mynaansoek in die Komatipoort-omgewing te hersien.
Manzolwandle beoog om op 8 700 ha net suid van die Krugerwildtuin te myn, maar die maatskappy se mynaansoek is in 2019 deur die departement van minerale hulpbronne en energie afgekeur toe ’n konsortium van geaffekteerde partye, waaronder die Marlothpark-eienaarsvereniging, die Marloth-belastingbetalersvereniging, Ngwenya Lodge, die familieboerderygenootskap Saai en plaaseienaars kapsie gemaak het.
Nou het Manzolwandle by Creecy se departement aansoek gedoen dat die besluit hersien word. Dit is teen haar goedkeuring dat AfriForum vroeër vandeesmaand ’n hofbevel bekom het.
Nog aansoeke
Daar is egter nog min om te vier, sê mnr. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai. Hy sê Saai en AfriForum is bewus van vier aansoeke van dieselfde groep myners om dieselfde stuk aarde te myn.
Die mees onlangse aansoek is van Tenbosh (Edms.) Bpk., ’n maatskappy wat Manzolwandle vroeër oorgekoop het. AfriForum het reeds aangedui dat hy hierdie aansoek ook sal teenstaan.
Rossouw sê boere in die omgewing is saam met plaaslike sakelui en die toerismebedryf bekommerd oor die vernietigende impak wat ’n steenkoolmyn op die omgewing kan hê.
Manzolwandle sê in sy mynaansoek die steenkoolneerslae is van ’n hoë gehalte en dat die myn ’n leeftyd van 30 jaar sal hê waartydens dit 300 nuwe werksgeleenthede sal skep.
Saai se navorsing wys egter dat die steenkool nie van ’n goeie gehalte is nie. Dit sal byvoorbeeld nie vir die opwekking van elektrisiteit gebruik kan word nie. Dit maak daarom vir Rossouw geen sin om 300 nuwe werksgeleenthede te skep in die mynbou en terselfdertyd omtrent 30 000 landbouwerkers se bestaande werksgeleenthede te vernietig nie.
Die beoogde oopgroefsteenkoolmyn bedreig nie net plaaslike kommersiële en opkomende boere, en die wildtuin se omgewing, lug- en watergehalte nie, maar ook Mosambiek se water kan besoedel word.
’n Storting van suur mynwater in die Wilgerivier het onlangs tot enorme visvrektes net stroomop van Loskopdam gelei. Mpumalanga se boere is dus deeglik bewus van die gevare wat steenkoolmyne vir hul bedrywe inhou.
Ander sake
Dit is nie die eerste keer dat die hof in die belang van die omgewing moes ingryp teen die minister van omgewingsake nie. In 2020 is haar departement sê omgewingsgoedkeuring vir die Thabametsi-kragsentrale deur die Noord-Gautengse hooggeregshof ter syde gestel.
Meer onlangs moes Creecy en mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, die knie voor die hof buig toe omgewingsregte-organisasies die hof versoek het om hul goedkeuring van seismiese eksplorasie deur die oliemaatskappy Shell ter syde te stel.
Skaars twee weke gelede het die hooggeregshof in Pretoria gelas dat die swak luggehalte van die Hoëveldse prioriteitsarea (HPA) in Mpumalanga ’n skending van landsburgers sê regte tot ’n gesonde omgewing is. Die hof het Creecy beveel om haar werk te doen en regulasies ingevolge afdeling 20 van die Wet op Omgewingsbestuur: Luggehalte (Wet 39 van 2004) af te kondig en af te dwing en om die bestuursplan vir die HPA toe te pas.