
’n Onderhandelde ooreenkoms is altyd meer werd as ’n ongunstige hofuitspraak. Só sê mnr Ilan Lax, voorsitter van die federasie van Suider-Afrika se vlieghengelaars (Fosaf). Dié organisasie gaan dus, ten spyte van die onlangse uitspraak in die Gautengse hooggeregshof waar regter A.J. Vorster in Fosaf se guns beslis het, waarskynlik aanhou om met me. Barbra Creecy, minister van omgewingsake, bosbou en visserye, se taakgroep oor die status van reënboog- en bruinforel in Suid-Afrikaanse waters saam te werk.
Die vlieghengelliggaam skop egter steeds viervoet vas teen die lys en regulasies van die departement wat die vorige minister, me. Edna Molewa, afgekondig het om forel tot indringerspesie te verklaar. Die lys is verlede jaar deur Creecy in werking gestel.
Die organisasie het die departement voor die hof gedaag met die argument dat die departement nie die regte stappe, soos die wet vereis, gedoen het nie en deur nie genoegsame inligting beskikbaar te stel nie, ontneem die regering Suid-Afrikaners van hul reg op betekenisvolle deelname in die wetgewende proses. Die hof het Fosaf gelyk gegee en ’n kostebevel teen die departement gemaak.
Lax sê hoewel die hof nie uitspraak gelewer het op latere kennisgewings nie, plaas die beslissing eintlik die onus op die minister om dit te onttrek omdat die konsultasieproses wat haar daartoe sou magtig, nou ongeldig verklaar is. As sy dit nie doen nie, kan Fosaf die hof nader om haar te dwing.
Swak redes
Die hof het ook bevind dat die minister nie aanvaarbare redes vir die toevoeging van die spesies tot die lys van indringers gegee het nie.
Vorster sê in sy uitspraak hoewel hy nie voorstel dat die kennisgewings die totale rekord waarop die minister staatgemaak het in haar besluit om bestaande regulasies te wysig insluit nie, kon die minister ten minste ’n opsomming van die inligting met verwysings na bronne beskikbaar stel.
“Openbare deelname is ’n demokratiese proses en nie uitsluitlik gereserveer vir geskoolde lede van die samelewing wat Engels kan lees nie, of vir die bevoorregte minderheid wat toegang het tot die internet nie. Deelnemende demokrasie is een van die grondslagwaardes van ons Grondwet en almal behoort aangemoedig te word om deel te neem,” sê Vorster in sy uitspraak oor die departement se versuim om in die kennisgewings melding te maak van mense se reg om mondelings kommentaar te lewer.
Lax meen die departement het Suid-Afrikaners probeer uitsluit om ’n puristiese benadering tot hulpbronbestuur af te dwing wat die hele waardeketting rondom forel en forelhengel kon vernietig.
Vir hom is dit vreemd dat die departement so baie energie bestee aan ’n spesie wat al meer as 130 jaar in Suid-Afrika voorkom en wat vanweë eiesoortige habitatsvereistes nie verder kan versprei nie, terwyl lewensbelangrike waterbronne soos die Vaalrivier ten gronde gaan as gevolg van besoedeling.
Hy sê Fosaf gaan nietemin in goeder trou met die departement probeer saamwerk in ’n soeke na ’n oplossing. Die organisasie wil sien dat die ooreenkoms wat in 2014 tussen die akwakultuur-sektor en regering bereik is, eerbiedig word. Daarvolgens sou die afgelope 100 jaar se status quo gehandhaaf word in water waar forel reeds voorkom en sou dit tot indringerspesie verklaar word in water waar dit nog nie voorkom nie.