
Altesaam 300 besware is reeds teen die Wetsontwerp op die Regulering van Grondbesit ingedien.
Dié wetsontwerp wil voorsiening maak vir die daarstel van grondplafonne en ’n langtermyn-huurstelsel vir landbougrond vir buitelanders. Die kategorieë vir grondplafonne sal distriksgewys bepaal word. Die voorstel is om plaasgroottes distriksgewys in kategorieë te verdeel. Enige oorskotgrond, van “alle Suid-Afrikaners, ongeag velkleur”, bó die vasgestelde kategorieë van ekonomiese skaal sal dan deur die staat bekom en herverdeel word.
Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, sê dis die eienaars van grond wat besware teen grondplafonne aangeteken het. Hy het aangedui dat voornemende begunstigdes van grondhervorming ook meen dat 5 000 hektaar genoeg is vir grootskaalse plase.
Voorstel oor plaasgroottes
Volgens ’n voorstel oor hoe die plaasgroottes daar moet uitsien wat destyds aan werkgroepe bekendgemaak is, moet kleinskaalse kommersiële plase tot 1 000 hektaar beslaan, mediumskaal kommersiële plase tot 2 500 hektaar, grootskaalse kommersiële plase tot 5 000 hektaar, en bosbou, wildplase en hernubare energieplase tot 12 000 hektaar.
Agri SA sê in sy kommentaar op die wetsontwerp dat hy grondhervorming steun wat op ’n ordelike manier gedoen word en gee toe dat die gelyke herverdeling van grond ’n voorvereiste is vir landelike stabiliteit.
Maar hoewel die voorrede van die wetsontwerp voorstel dat die wetgewing beide herverdeling van grond en die kwessie van landbou-uitsette en voedselsekuriteit aanspreek, is daar egter niks in die wetsontwerp wat voedselsekuriteit sal bevorder nie.
Nadelig vir voedselsekerheid
Me. Annelize Crosby, Agri SA se parlementêre skakelbeampte en regs-en grondbeleidsadviseur, sê hulle siening is dat die wetgewing ’n nadelige impak op voedselsekerheid sal hê.
Studies wat gedoen is oor grondplafonne wat in ander lande ingestel was, wys dat die versplintering van landbougrond ’n negatiewe impak op landbouproduksie gehad het en het ook geen invloed op armoedeverligting gehad nie.
Oop vir korrupsie
Agri SA meen die benadering wat die Regering met die wetsontwerp wil volg, baie duur, moeilik om te administreer, oop vir korrupsie is en nie volhoubare grondhervorming en landbouproduksie bevorder nie. “Die benadering sal nie vraaggedrewe wees nie en sal dus behoorlike beplanning bemoeilik.”
Intussen word met groot spanning afgewag of die ANC ten gunste aspirasies vir die onteiening van grond sonder vergoeding, sal besluit. Hierdie kwessie is deel van die vraag, “watter beginsels moet die rigtingwyser vir ANC-beleid rakende die hervorming van grond en die landbou wees in die proses van ekonomiese transformasie?” wat takke moet beantwoord by die party se Nasionale Beleidskonferensie wat van 30 Junie tot 5 Julie sal plaasvind.