
Twee gevalle van hondsdolheid in minder as ses maande is in die KwaZulu-Natalse middelland deur FreeMe KZN gevind. In die mees onlangse geval is ’n witstert-meerkat in die Gates Estate-woongebied in Hilton gevind. Die vroulike meerkat, wat reeds dood was toe FreeMe KZN in kennis gestel is, het ’n welpie by haar gehad. Die welpie is by die organisasie se perseel in kwarantyn geplaas en het na ’n ruk ook gevrek.
Volgens me. Candice Homan, bemarkingskoördineerder vir FreeMe KZN, is hierdie reeds die tweede geval van hondsdolheid vanjaar nadat ’n meerkat in iemand se motorhuis op 16 Januarie gevind is.
“Ons raai mense aan om sodra hulle ’n rondloper troeteldier sien wat siek lyk, of wilde diere wat eienaardig optree, om hul naaste dierewelsynsorganisasie te skakel sodat die diere ordentlik versorg kan word en, indien nodig, in kwarantyn geplaas kan word.”
Ent jou diere gereeld
“Die hondsdolheid-virus word vir etlike maande in die gasheer se liggaam geïnkubeer voordat die draer aansteeklik raak en simptome sigbaar raak. Sodra die simptome sigbaar raak, is die draer en die virus dodelik. Diere met hondsdolheid is nie altyd aggressief nie en het nie altyd skuim om die mond nie.
“Hulle lyk dikwels net siek, gedra hulself abnormaal en stort dikwels net van moegheid ineen. Die virus word oorgedra deur speeksel en kan die liggaam binnedring deur vel-skeurtjies of speekselmembrane. Daar is tans geen behandeling vir hondsdolheid in diere of mense nie. Slegs gereelde inentings kan voorkom dat hondsdolheid dodelik raak, so ons lê klem op die versoek dat troeteldiereienaars hul diere inent.
“Indien jy jou diere gereeld inent, is daar geen rede om paniekerig te raak nie. Indien jy paraat is, jou diere ingeënt is en jy bewus is van wat in en om jou omgewing aangaan, sal jy en jou troeteldiere se risiko om hondsdolheid op te doen, baie klein wees,” sê Homan.
Vir meer inligting, kontak die volgende staatsveeartse: Drs. Allen Still 082 575 3929, Kevin Le Roux 079 506 2058, Ginette Bentley 082 566 967