
Een mens het reeds in Mpumalanga aan die siekte gesterf en nog 16 is met die virus besmet, sê dr. Mpho Maja, nasionale direkteur vir dieregesondheid by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
Die Parlement se portefeuljekomitee vir landbu, bosbou en visserye het die departement versoek om hom rakende die stand van dieresiektes in die land in te lig.
“Dit is hartseer as ’n mens kyk na die voorvalle en die mense wat sterf daarvan. Hondsdolheid kan nie behandel word nie: Wanneer iemand dit opdoen, lei dit tot die dood.” Agt mense in KwaZulu-Natal en agt in die Oos-Kaap het die siekte. KwaZulu-Natal was vir twee jaar hondsdolheidvry nadat hy finansiering vir die aankoop van die entstof van die Bill en Melinda Gates-stigting gekry het.
“Ongelukkig het daardie finansiering geeïndig en ons sien nou ’n toename in gevalle by mense omdat honde nie ingeënt word nie.”
Maja sê as die departement genoeg geld kry om die entstof te koop sodat troeteldiere, veral katte en honde, teen hondsdolheid ingeënt kan word, kan die oordrag na mense voorkom word.
Entstof
Die entstof is nie beskikbaar by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) nie. Die Regering koop dit van die kommersiële bedryf aan, waarna dit onder behoeftige gemeenskappe versprei word. KwaZulu-Natal is veral bekend om die voorkoms van hondsdolheid. Maja sê die toename in voorvalle van die siekte in Limpopo en Mpumalanga is weens die virus wat sy weg uit die Krugerwildtuin vind. Die agt menslike besmettings in die Oos-Kaap is meegebring deur diere wat van KwaZulu-Natal na die Oos-Kaap beweeg het, sê sy.
Mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, sê dit is skrikwekkend dat die land afhanklik moet wees van nie-regeringsorganisasies soos Gift of the Givers en die Bill en Melinda Gates-stigting om ’n siekte te bekamp wat menselewens bedreig.
Die departement werk saam met ander lande aan ’n wêreldwye strategie om te voorkom dat mense die siekte opdoen. Plaaslik wil die departement ’n entstofbank skep.
Hondsdolheid word van diere na mense oorgedra wanneer ’n dier wat daarmee besmet is, ’n mens byt.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.