
Tradisionele leierskap word nie in ag geneem by die instel van grondeise nie, het me. Nomfundo Gobodo, die hoof-grondeisekommissaris, gesê.
Lede van die Parlement se portefeuljekomitee van landelike ontwikkeling en grondhervorming het kommer uitgespreek oor misverstande wat opduik nadat pres. Jacob Zuma vroeër vanjaar by die opening van die Huis van Tradisionele Leiers, dié leiers aangemoedig het om 'n span goeie prokureurs te kry om voordeel te trek uit die Wetsontwerp op die Herstel van Grondregte wat grondeise sou heropen. Die president het die wetsontwerp in Julie onderteken, maar dit maak slegs voorsiening vir grond wat ná 1913 ontneem is. Die Zoeloe-koning, Goodwill Zwelithini, het egter al aangedui dat hy beplan om eise in te stel vir grond in KwaZulu-Natal, die Vrystaat en die Oos-Kaap wat uit 1800’s dateer.
Genl. Bantu Holomisa, UDM-leier, het gesê dat onduidelikhede oor die eisproses uit die weg geruim moet word. "As die president gesê het dat die restitusiewet gewysig sal word, dan het hy sekerlik die mandaat van sy party gehad, wat tans eers uitgestel is. Mense luister na die president en hulle is besig om eise in te stel. So as die inligting slegs aan sekere stamme gegee word en nie aan ander mense, dan is ons in die moeilikheid. Die Regering moet met een stem praat,” het Holomisa gesê.
Mnr. Andile Mngxitama, EFF-LP, het gesê die kwessie van die heropening van grondeise het niks te doen met die herverdeling van grond of om mense hulle grond terug te gee nie, maar die herlewing van die stamstelsel wat niks goed vir nasiebou of die oplossing van die grondkwessie inhou nie. “Dit het te doen met die gee van geld aan wit grondeienaars en die omkoop van hoofmanne.
“Skielik moet ek agter my koning of my stam gaan staan om 'n stukkie van my grond te kry. Dit is wat die president gesê het. Ons sit nou met 'n orgie van eise en teeneise deur mense wat glo dat hulle die hoofmanne is.”
Gobodo het verduidelik dat wanneer 'n eis ingestel word, word daar navorsing oor die geldigheid van die eis gedoen en nie of dit deur 'n tradisionele leier ingestel is of nie. As 'n eis ingedien word vir grond wat voor 1913 onteien is, dan voldoen dit nie aan die huidige wetgewing nie en sal dus afgekeur word.
Teen 19 Augustus is 12 464 nuwe grondeise reeds ingestel, waarvan die meeste uit die Wes-Kaap, Gauteng, Vrystaat en Limpopo kom. Teen 31 Maart vanjaar was 8 471 bestaande eise nog nie afgehandel nie, maar navorsing word oor die meeste hiervan gedoen.