Praktiese demonstrasies, ‘n kleinvee-kursus en gesondheidsonderwerpe kan na uitgesien word by die 10de Landboukorrels Boeredag.
Dié boeredag, wat op Vrydag, 29 en 30 Oktober plaasvind, word gesamentlik deur Radio Pretoria en die TLU SA Sentraalstreek op die Cullinan Boere-unie terrein aangebied word.
Die kleinveekursus op die Vrydag sal handel oor gesondheid, voeding, keuses van skaaprasse en melkbok- en boerbokboerdery. Praktiese demontrasies oor die hantering van skape gaan ook aangebied word. Koste vir die kursus is R100 per persoon wat koffie en middagete insluit. Inskrywings sluit op 22 Oktober.
Die pret stop nie net daar nie met die momentum van die eerste dag wat oorspoel tot die Saterdag. ‘n Pretdag met landboudemonstrasies, vermaak, stalletjies en ossewaritte wag. Die ingangsfooi beloop slegs R10 per persoon. ‘n Veiling van meestal kommersiële vee word deur BKB aangebied.
Bekostigbare helikopter-ritte en ‘n vlugsimuleerder sal almal, wat ooit gewonder het of hulle ‘n helikopter suksesvol kan bestuur, se vrae beantwoord.
‘n Huisvlytwedstryd in samewerking met die Vroue Landbou-unie maak ook sy debuut by die boeredag. Gebak, gebottelde produkte en naaldwerk is onder meer van die kategorieë waarin meegeding kan word.
Die Landboukorrels-boeredag is die amptelike afskop van die jaarlikse Goliat van Gat Pampoenkweekwedstryd.
Vir verdere inligting oor die Landboukorrels-boeredag, kontak me. Lynette du Plessis van TLU SA by 012 804 8031.
15 Oktober 2010