
Boere van die Nigel en wyer Gautengse gemeenskap asook die Johannesburgse varsproduktemark ontferm hulle oor Duduza, sê Agri Gauteng.
Die organisasie sê nadat mielies en groente donasies vroeg verlede week by dié informele nedersetting versprei is, is nog groente en eiers Vrydag (7 Oktober 2011) uitgedeel.
Sowat 9000 eiers is geskenk vir die sowat 200 huisgesinne wat dakloos gelaat is ná ‘n tornado twee naweke gelede deur die nedersetting beweeg het. Die Johannesburgse Varsproduktemark het ook, ná ‘n versoek van Agri Gauteng, sowat 600 sakke met groente en ander bederfbare en nie-bederfbare produkte geskenk.
“Dit was vir my so mooi toe lede van die TLU SA ook spontaan by ons aksie betrokke geraak het,” vertel mnr. Dirk Hanekom, die hoofbestuurder van Agri Gauteng.
Kommer oor kommunikasie
Hanekom sê hulle is wel bekommerd oor kommunikasie rondom donasies wat op grondvlak lei tot chaos. Donateurs word glo nie behoorlik ingelig oor wat regtig nodig is nie, wat lei tot ‘n opeenhoping van baie bederfbare produkte.
“Dit gaan nie goed wees vir mense om verlepte groente en vrugte te eet nie. Van die goed vat tot drie dae om te versprei, en teen daardie tyd kan baie daarvan maar weggegooi word,” aldus Hanekom.
Hy sê dié donasies sal nog vir ‘n tyd lank voortgaan. “Nou is die inwoners grotendeels bekommerd oor hulle huisvesting en om weer water en krag te kry.”
11 Oktober 2011