
Só sê mnr. Andries Kotzé, voorsitter van die Trompsburg-landbouvereniging, oor die voer, skenkings en geld wat die laaste paar weke ingestroom het ná verwoestende veldbrande van 15 tot 17 November in die Trompsburg-omgewing.
Dié veldbrande wat volgens mnr. Johann Breytenbach, hoofbestuurder van die Vrystaatse sambreel-organisasie vir brandverenigings, “rookkolom-gedrewe” was, het 13 600 hektaar se weiding en veld vernietig. ’n Groot gebied van 40 000 hektaar is deur die brande geraak.
Altesaam 82 plase het deurgeloop, en 256 km se draad- of plaasheining is verwoes. Volgens Breytenbach sal dit sowat R11 000 per km kos om te vervang. Meer as 500 skape en 30 beeste het as gevolg van die brande gevrek, en sommige boere het al hul weiding verloor.
Skenkings
Hulp vir boere wat skade gely het het volgens Kotzé van onder meer Fauresmith, Edenburg, Reitz, Wepener, Bultfontein en Hopetown gekom. Lusernbale en -pille, mielies, aartappels en voerprodukte is van die hulpmiddels wat geskenk is.
Mnr. Gerhard Kriel, hoof- uitvoerende beampte van Vrystaat Landbou (VL), het sy dank uitgespreek oor al die hulp. “Hierdie bydraes om die landbou te ondersteun, is eintlik bydraes tot Suid-Afrika as ’n geheel. Deur die Trompsburg-boere te ondersteun, ondersteun weldoeners die mense wat kos op die land se tafel sit.”
Reëlings sal getref word om vroeg volgende jaar die skenkings af te haal, sê Kotzé. Die Trompsburg-landbouvereniging is verantwoordelik vir die vervoer en brandstofkoste. Kotzé sê hulle verwag daar gaan in die toekoms ’n verdere behoefte aan voer vir skape wees.
Wil jy help?
Om Trompsburg se boere te help, kan geld geskenk word aan Vriende van Landbou, ’n ondersteuningsnetwerk vir boere wat deur die VL bestuur word. Ander hulp en voer is ook welkom.
Vir nog inligting, kontak dr. Jack Armour, die VL-bedryfsbestuurder, by jack@vslandbou.co.za of me. Elize Spence, administratiewe beampte van die VL, by elize@vslandbou.co.za, of kontak die organisasie by tel. 051 444 4609.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.