Die ramphulpfondse vir vroeër die jaar en laat verlede jaar se vloede gaan te laat wees om boere te help - mits dit uitbetaal word, sê Agri Noord-Kaap.
Agri SA sê luidens ‘n verklaring tydens ‘n onlangse vergadering van die Nasionale Ramphulp-landbouforum is aangedui dat mits die bedrag van R1,14 miljard goedgekeur sou word, dit eers in die komende twee geldjare uitbetaal sal word.
“Dit is heeltemal te laat! Niemand kan sy grond net vir twee jaar laat lê sonder om iets daarop te verbou nie. En baie van ons sien nie nou kans om iets aan die gebreekte keerwalle te doen nie, want sê nou dit gebeur dié somer weer, dan verloor ons daardie geld ook,” sê ‘n gefrustreerde mnr. Jors van der Westhuizen, ‘n boer van die distrik Grootdrink.
Boere verlaat bedryf
Van der Westhuizen sê in sy distrik weet hy al van twee boere wat hulle grond in die mark gesit het omdat hulle bloot nie kans sien om aan te gaan nie.
Mnr. Johan van Rensburg, uitvoerende hoof van Agri Noord-Kaap, sê hulle het ook gehoor van boere elders in die provinsie wat handdoek ingegooi het omdat hulle nie sonder hulp kan oorleef nie.
Die Nasionale Rampbestuur-sentrum sê ‘n aansoek is by die Nasionale Tesourie ingedien vir dié bedrae, en sou dit goedgekeur word, sal die eerste fondse/geld in Oktober 2011 beskikbaar gestel word. Dit sal dan in gelyke dele oor die volgende twee geldjare uitbetaal sal word.
Dié fondse/geld sal aan provinsiale owerhede gegee word, en taakspanne is aangewys wat moet toesien dat dit reg uitbetaal word.
Intussen het Agri SA by die vergadering kapsie gemaak teen die feit dat boere nog geen ramphulp ontvang het, ten opsigte van die brande wat in verskillende provinsies voorgekom het nie.
“Boere moet op die goedheid van boere in naburige provinsies staatmaak vir voerskenkings, wat teen reuse-vervoerkostes aangery moet word,” lui ‘n verklaring.
Die sentrum het ook aangedui dat hy wag op verslae uit die onderskeie provinsies vir ramphulpverklaring.
Uitdagings
Die organisasie sê tydens die vergadering is verskeie uitdagings rondom die brandseisoen uitgewys. Een van dié is die feit dat die staat en afwesige grondeienaars nie aan voorvereistes voldoen nie, en dat die meeste brande op dié gronde ontstaan.
Kommer is ook uitgespreek oor die feit dat van die Brandveiligheid-verenigings nie funksioneel is nie. Volgens die organisasie is uitgewys dat sommige boere ook nie aan die risikokategorieë in die vereistes voldoen nie.
Die gebrek aan behoorlike toerusting, gebrekkige opleiding van brandweermanne en onvoldoende waarskuwingsletsels het ook onder die soeklig gekom.
15 September 2011