
Me. Stephanie van der Walt is pas aangestel as bestuurder van die Suid-Afrikaanse afdeling van die internasionale varsproduktevereniging (IFPA). Sy was voorheen hoof van grondsake by Agri SA.
Haar belangstelling in die landbousektor het ontstaan tydens ’n internskap by die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) nadat sy ’n meestersgraad in internasionale handel en investeringsreg in Amerika verwerf het.
“Handel is ’n baie wye onderwerp en ek het toe vir my toesighouer daar gevra wat is ’n goeie rigting om in te gaan in handel,” sê sy. “Hy het geantwoord as hy ’n jong mens was wat in handel moes gaan, sou hy die dienstesektor of die landbou gekies het. Ek het besluit om in die landbou in te gaan.”
Sy het sedertdien by die navorsingseenheid van die nasionale landboubemarkingsraad, die landbousakekamer Agbiz en Agri SA gewerk.
Van der Walt sal in haar nuwe pos konsentreer op die ondersteuning van IFPA se globale impak deur diens aan lede te lewer, geleenthede te soek om groter waarde vir Suider-Afrikaanse lede te skep en insigte te verskaf oor die behoeftes van die Suider-Afrikaanse mark. Verder sal sy ook saam met internasionale kollegas werk om ’n netwerk tussen die vereniging se globale markte te skep en dien as die primêre tussenganger tussen IFPA-lede, regeringsinstellings en ander belanghebbendes.
“Ons wil IFPA aan ons lede bekend stel en aan hulle verduidelik watter waarde die IFPA-strukture bied en hoe hulle dit kan gebruik, want ek dink veral sedert United Fresh en die varsproduktebemarkingsvereniging PMA in IFPA opgeneem is, is daar onsekerheid.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.