Die geldelike krisis wat Europa bedreig, kan Suid-Afrika “seermaak” en die regte monetêre beleid moet gehandhaaf word, aldus die Internasionale Monetêre Fonds (IMF).
Luidens ’n berig in Engineering News sê me. Christine Lagarde, hoof van die IMF, Suid-Afrika moet ’n monetêre beleid handhaaf wat groei op mediumtermyn kan verseker.
Lagarde het die land onlangs besoek en met pres. Jacob Zuma en ander senior beamptes vergader. Luidens ’n verklaring sê sy: “Die voortslepende probleme in die Euro-sone, een van Suid-Afrika se hoof uitvoermarkte, kan aansienlike risiko’s vir ekonomiese vooruitsigte beteken.”
Loonsverhogings belangrik
Sy sê Suid-Afrika sal ook wys wees as hy loonsverhogings stelselmatig aanpak. Sy en Zuma stem ooreen dat die groot uitdaging tans is om die monetêre beleid ondersteunend, maar ook mededingend te hou.
Die land het die afgelope twee jaar sowat een miljoen werksgeleenthede verloor. Ontleders meen dit sal moeilik wees om dié geleenthede weer terug te kry omdat vakbonde die prys van arbeid buite die bereik van markte opgeskuif het.
Volgens die berig verdien die gemiddelde fabriekswerker in Suid-Afrika ses keer meer as ’n fabriekswerker in China, maar is minder effektief.
Bron: Engineering News
10 Januarie 2012