
Die voedselgroep RCL Foods het sy gunstige momentum van die afgelope jaar behou, maar verwag dat stygende inflasie vorentoe ’n groter impak kan hê.
Die maatskappy doen sake in die kruideniersware-, suiker-, hoender- en logistieke bedryf. Hy produseer van Suid-Afrika se bekendste voedselhandelsmerke soos Rainbow Chicken, Selati (suiker) en Ouma-beskuit. Sy voerafdeling sluit handelsname soos Molatek en Epol in.
In die ses maande tot einde Desember 2021 het RCL Foods se inkomste met 9,2% tot R17,1 miljard gestyg, terwyl wesensverdienste met 21,5% tot R645 miljoen verhoog het. Die maatskappy het ’n tussentydse dividend van 15c per aandeel verklaar.
“Ons probeer so oordeelkundig as moontlik wees om die omvang van die prysverhogings te bestuur, maar ons is bekommerd dat voedselinflasie in die res van die boekjaar selfs verder gaan styg, veral met brandstof wat nou so duur word,” sê mnr. Rob Field, finansiële hoof van RCL Foods. Hy sê elke afdeling van die maatskappy word blootgestel aan die hoër brandstofpryse, wat verspreidingskoste en bedryfskoste opstoot.
Gebeure in Oekraïne wek kommer
Die maatskappy is baie bekommerd oor die gebeure in Oekraïne wat groot wisselvalligheid in die landboumark veroorsaak. “Die hoë koringprys is reeds ’n belangrike faktor wat ons insetkoste verhoog, so ook mielies wat ons voer- en hoenderbedrywighede raak.”
Die voedselverwerkingsbedryf stoei al twee jaar met hoë mieliepryse. “Elke keer dink ’n mens dit kan eenvoudig nie meer veel langer op dieselfde hoë vlakke bly nie, maar dan styg die prys selfs verder,” sê Field, maar voeg by dat die prys wel die een of ander tyd sal moet daal, want teen dié onvolhoubare pryse gaan aanvraag daal. “Suid-Afrika voorsien in sy eie mielie-behoeftes. Daar is geen rede waarom plaaslike pryse so geraak moet word deur die faktore wat die internasionale pryse opstoot nie.”
RCL Foods se hoenderafdeling het twee jaar gelede ’n omdraaistrategie ingestel nadat hy groot probleme met sy ingevoerde teelmateriaal ondervind het wat hom in een stadium tot R20 miljoen per maand uit die sak gejaag het. Die afdeling se inkomste het in die oorsigtydperk met 11,4% tot R3,08 miljard gestyg. “Dit sal waarskynlik nog ’n jaar wees voor ons hele hoenderbevolking uit beter teelmateriaal bestaan en ons die voordeel van beter prestasie ten volle kan benut.”
Field sê die uitbreking van voëlgriep het voorraad in die hoenderbedryf aan bande gelê en pryse laat styg. “Dis ’n aanduiding dat die produk beter gebalanseerd in die plaaslike mark is, met die afname wat hoër invoertariewe bewerkstellig het in ingevoerde hoenderprodukte wat goedkoop in ons mark gestort is.”
Suikerproduksie
Suikerproduksie kan vanjaar geraak word deur ’n moeilike seisoen met reën wat laat gekom het, en hitte-stres in die vroëe deel van die seisoen. Daar was ook probleme met plantluise. Die huidige oes se opbrengs sal laer as in die vorige seisoen se rekord wees, maar Field sê dit sal nie kommerwekkend laag wees nie. “Ons meulens is baie doeltreffend om ál ons suikerriet te pers, al wat nou gebeur is dat ons net minder het om te pers.”
Field verwag dat verbruikers die res van vanjaar onder druk sal wees, gegewe die hoë werkloosheidskoers en swak ekonomiese herstel ná covid-19. “Dit bly belangrik vir RCL Foods om bekostigbare en relevante produkoplossings aan die mark te lewer.”