
Dít het aan die lig gekom toe Statistieke SA (SSA) sy jongste inflasiesyfers bekend gemaak het. Terwyl die Suid-Afrika se inflasiekoers in Januarie 2023 effens gedaal het tot 6,9% teenoor die vorige maand se 7,2% het die inflasiekoers vir voedsel en nie-alkoholiese drankies tot 13,6% op ’n jaargrondslag verhoog.
Volgens SSA was ’n verlaging in die petrolprys ’n faktor wat Januarie se algehele verbruikersprysindeks effens afgedruk het teenoor Desember se meting. Maar voedselinflasie is besig om te versnel.
Binne die voedselkategorie het sekere kossoorte se pryse ook drasties gestyg, toon SSA se indeks. Brood- en graankosse se prysindeks was in Januarie vanjaar 21,8% hoër as ’n jaar gelede.
Vleisinflasie het op ’n jaargrondslag tot 11,2% gestyg. Maar in net ’n maand, gemeet teen Desember 2022 se syfer van 9,7%, het dit met 1,5% verhoog.
Hoenderpryse het ook op ’n maandgrondslag noemenswaardig gestyg. Bevrore hoenderstukke is 2,7% duurder as ’n maand gelede en vars hoender is 5,3% op. Volgens SSA het die jaarlikse vis-inflasie van Desember se 10,4% tot 13% in Januarie gespring. Dit is die hoogste jaarkoers vir vis sedert Mei 2009 toe dit 14,2% was. Spek is al 19,4% duurder as ’n jaar gelede en selfs die prys van afval het op ’n jaargrondslag met 5,2% gestyg.
Wat ander afdelings in die inflasiemandjie betref, is die brandstofprysindeks in Januarie beduidend laer gemeet op ’n maandgrondslag. In Desember was die jaarkoers 22,8%, maar dit het in Januarie tot 13,1% verlangsaam. Die vervoerindeks is 11,1% hoër op ’n jaargrondslag terwyl die indeks vir behuising en nutsdienste met 4,1% op ’n jaargrondslag gestyg het.
Daar is tans baie kostedruk in die voedselwaardeketting, waarvan krag en brandstofverbruik weens beurtkrag nie die minste is nie, sê prof. Johan Willemse, onafhanklike landbou-ekonoom.
“Die dilemma is dat soveel voedselverwerkers weens beurtkrag nie teen volle kapasiteit hul aanlegte kan bedryf nie. ’n Fabriek maak nie geld as hy teen 60% van sy kapasiteit bedryf word nie. Die verwerkers gaan noodwendig daardie koste moet deurgee na die verbruiker toe.”
In sy kommentaar sê mnr. Wandile Sihlobo, senior landbou-ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, die verhoogde produksiekoste wat met beurtkrag verband hou, sal waarskynlik in die volgende paar maande sterker na vore kom. “Dit hou ’n risiko in dat verbruikers se voedselinflasie selfs hoër kan styg as wat ons voorheen verwag het.”
Sihlobo glo dié risiko sal veral merkbaar wees in die pryse van produkte wat ten volle onder besproeiing verbou word, soos vrugte en groente, maar dat voedselverwerkers soos die hoenderbedryf en meulenaars ook hoër inflasie sal aanteken.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.