
Sy finansiële verslagdoening het hom al gereeld in die warm water laat beland by die parlementêre portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en ongunstige uitkomste by die ouditeur-generaal (OG) laat kry.
Die raad het die vorige boekjaar nie saamgestem met die gekwalifiseerde ouditmening wat hy van die OG gekry het nie. Hy glo slegs die trustraad, en nie die trust nie, is onderhewig aan die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA, Wet 1 van 1999). Volgens die raad is die Ingonyama-trustraad ’n openbare entiteit wat deur die OG ge-oudit kan word, en nie die Ingonyama-trust nie.
Die portefeuljekomitee het die raad vroeër vanjaar daarop gewys dat die Ingonyama-trustraad en die Ingonyama-trust onlosmaaklik met mekaar verbind is. Die raad kan dus nie op sy eie bestaan nie, want dit is die rekenpligtige owerheid van die trust.
Laat verslag
Volgens die PFMA moet die uitvoerende gesag van die entiteit, in dié geval me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, amptelik binne ses maande ná die einde van die boekjaar redes verskaf waarom die jaarverslag nie betyds by die parlement ingedien is nie.
Didiza het in ’n skrywe aan die parlement aangedui dat die raad besluit het om sy raamwerk vir verslagdoening te hersien weens die ongunstige oudit-uitkomste wat hy van die OG kry. Hy moes met die rekenkundige generaal konsulteer voordat die finansiële state opgestel word. Dit het meegebring dat die finansiële state van die raad eers einde Julie by die OG vir oudit ingedien is, en dié van die trust einde Augustus.
Die OG het onderneem om die ouditverslag van die raad teen 1 Oktober en die een vir die trust teen 1 November in te dien, het Didiza aangedui. Daar word voorsien dat die jaarverslag van die entiteit nie later nie as 12 November in die parlement ter tafel gelê sal word.