
Boerdery met inheemse beesrasse wat beter by die ekstreme toestande aangepas is wat met aardverwarming en klimaatverandering verbind word, kan die redding van beesboerdery wees.
Me. Mokgadi Seshoka, dierewetenskaplike van die Landbounavorsingsraad (LNR) se Diereproduksie-instituut by Irene, het op 'n inligtingsdag by die Armoedsvlakte-bultoetsstasie gesê die effek van klimaatverandering op beesboerdery kan reeds in Suid-Afrika gesien word.
Infrarooi-termografie word gebruik om toe- en afnames in temperatuur op diere se velle te meet. Dit blyk dat beeste se reaksie op hittestres deur ras en raamgrootte bepaal word. Inheemse beeste met 'n klein tot medium raamgrootte is gehard, vrugbaar en by klipharde toestande aangepas.
“Op die langtermyn kan ons boere dus aanbeveel om eerder met diere te boer wat geneties aangepas is, soos die inheemse Afrikaner, Bonsmara en Nguni,” het sy gesê. Navorsing by die Vaalharts-proefplaas het duidelik hierdie rasse se voordeel aan die hand van hul reproduktiewe vlakke getoon.
Temperature styg
Volgens beramings gaan die temperatuur teen 2050 sowat 2 tot 3°C hoër en aan die einde van hierdie eeu 4 tot 7°C hoër as tans wees indien die vrylating van kweekhuisgasse nie aan bande gelê word nie.
Lewendehawe word meestal negatief deur klimaatverandering geraak. 'n Toename in die voorkoms en graad van ongunstige weerstoestande, veral hittegolwe en droogte, lei tot groter hittestres. Diere haal dan vinniger asem en eet en drink minder.
Seshoka het gesê by bulle veroorsaak hittestres 'n daling in die reproduktiewe vermoë weens 'n afname in testosteroon en styging in spermmortaliteit en die aantal abnormale spermselle. Ná hittestres neem semen tot agt weke om na normaal terug te keer.
By koeie verlaag hittestres die tydperk van oestrus, die koeie ovuleer nie, post-partum-periode word langer, oösietgroei word benadeel, puberteit in verse word vertraag, aborsies neem toe en geboortegewig daal.