
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, het dié pleidooi aan pres. Cyril Ramaphosa gerig nadat Ramaphosa gisteraand aangekondig het Suid-Afrika sal op vlak 3 van die inperking bly en dat alkoholverkope dus steeds verbied is.
Ramaphosa het gesê die gesondheidsdienste in verskeie dele van die land het verslag gedoen dat die verbod op alkoholverkope ’n beduidende vermindering in traumagevalle in hospitale oor die Nuwejaar meegebring het. Dit beteken meer beddens is vir Covid-19-pasiënte beskikbaar en gesondheidspersoneel kan beter aandag gee aan diegene wat in hospitale opgeneem is.
Van der Rheede meen die verbod gaan onwettige alkoholverkope net aanvuur.
Onverstaanbaar
Van der Rheede vra waarom aanlyn verkope van alkohol nie toegelaat word nie, en waarom wynplase nie toegelaat word om met wynproe en -verkope voort te gaan nie.
“Die verantwoordelike gebruik van wyn en ander drank is iets waarop die wyn- en bierbedryf deurgaans klem lê. ’n Algehele verbod het reeds ’n uiters nadelige ekonomiese uitwerking op die bedryf. Die regering moet eerder met die alkoholbedryf saamwerk en ’n strategie van stapel stuur wat ’n kultuur vir die verantwoordelike gebruik van alkohol sal vestig en bevorder.”
Hy wys daarop dat die impak van ’n algehele verbod die ekonomiese bydrae van die alkoholbedryf heeltemal sal vernietig. Daar is strategieë om die bedryf aan die gang te hou en werkgeleenthede te beskerm. Dit vereis egter groter samewerking en die uitruil van idees.
Grensposte
Die nuwe regulasies verskil nie veel van die vlak 3-regulasies wat op 28 Desember verlede jaar aangekondig is nie, en wat steeds van krag bly.
Van die veranderinge behels dat die aandklokreël nou van 21:00 tot 05:00 sal geld, en nie meer tot 06:00 soos voorheen nie. Daarby word 20 grensposte op die landsgrense tot 15 Februarie gesluit, met sekere toegewings wat gemaak word. Die doel is om die opeenhoping van mense en die hoë risiko van Covid-19-oordrag te verminder. Dit sluit die ses besigste grensposte in, naamlik Beitbrug, Lebombo, Maserubrug, Oshoek, Ficksburg en Kopfontein.
Mense sal egter steeds toegelaat word om Suid-Afrika binne te kom of te verlaat ingevolge sekere bepalings. Die vervoer van brandstof, vragte en goedere oor landsgrense sal steeds toegelaat word, asook wanneer mediese nooddienste benodig word. Die terugkeer van Suid-Afrikaanse burgers, permanente inwoners of mense met geldige visums word ook toegelaat. Diplomate sal toegelaat word om oor die grense te reis, asook buitelanders wat Suid-Afrika verlaat en daaglikse pendelaars van buurlande wat in Suid-Afrika skoolgaan.
Die volledige lys van uitsonderings moet nog gepubliseer word.