
’n Kernboodskap uit Graan SA se kongres wat by die regering moet uitkom, is dat dit nie meer winsgewend is om mielies as die stapelvoedsel van Suid-Afrika te produseer nie. Dit is ’n baie gewigtige saak wat dringende aandag verg, het mnr. Derek Mathews, voorsitter van Graan SA, gesê.
Hy het ná afloop van die tweedaagse kongres buite Bothaville gesê dit behoort almal pessimisties te stem, maar tog is daar baie hoop onder die produsente dat Graan SA die vermoë het om iets daaromtrent te doen.
“Ek sou baie graag baie nader aan oplossings wou wees vir die probleme wat insetkoste en winsgewendheid betref. Hier is nóú ’n krisis en die oplossings moet nóú gevind word. Hier lê baie werk voor, veral wat mielies se winsgewendheid as stapelvoedsel betref. Die probleem is nie so erg by oliesade en ander gewasse nie.”
Oor die Russiese inval in Oekraïne het hy gesê boere moet besef Suid-Afrika is nie verwyderd van die situasie nie. “Dit het ’n invloed op die hele wêreld. Dit het aan die inset- en aan die uitsetkant ’n invloed op ons. Al vind ons baat by hoër pryse vir ons produkte, is daar geen wenner in so ’n konfliksituasie nie. Dit is net sleg vir almal ter wêreld.”
“Energie speel ’n ontsettend belangrike rol,” het dr. Pieter Taljaard, uitvoerende hoof, gesê. “Ons weet hoe belangrik energie in die vervaardiging en beskikbaarheid van kunsmis is. Produsente gebruik ook baie diesel in hul produksieprosesse en hier kom ’n groot skok wat pryse betref. Die probleem op kort termyn is om daardeur te probeer kom.”
Taljaard beklemtoon dat almal blootgestel is aan die wêreldmark en dat dit goed vir die boere is as produkpryse styg. “Terselfdertyd styg voedselinflasie en dit het ’n ongelooflike impak op veral lae-inkomstegroepe. Die impak op die verbruiker raak al hoe groter en die landbousektor sien dit as sy taak om genoeg bekostigbare, veilige voedsel vir Suid-Afrika te produseer.”
Mathews sê met Graan SA se streekvergaderings in die aanloop tot die kongres het hulle ’n daadwerklike poging aangewend om opnuut die eienaarskap van Graan SA terug te plaas in die hande van die produsente. “Die kongres is ook só gereël dat die produsente kon deelneem. Ons het dit ervaar dat hulle eienaarskap aanvaar.
“My gewaarwording was dat hierdie kongres opnuut die opgewondenheid en die wil om hier te wees aangewakker het binne die afgevaardigdes. Daar is ’n nuwe opgewondenheid oor Graan SA en sy werksaamhede ondanks al die probleme.”
Taljaard sê dit gaan die strategie bly om seker te maak daar word geluister na die produsente – as die eienaars van die organisasie – en die klem is om, veral in die somergebied, meer produsente te betrek. “Ons wil ons diens só verkondig en verbreed dat ons seker maak dat meer mense deel wil wees van Graan SA.”
Taljaard, wat die eerste keer ’n kongres as uitvoerende hoof bygewoon het, het gesê daar was baie stres in die aanloop tot die kongres weens al die reëlings. “Dit was egter ongelooflik hoe maklik Graan SA se span op die ou einde alles agtermekaar gekry en seepglad laat verloop het. Ek kon daarom baie tyd bestee om te konsentreer op produsente se vrae en die interaksie met ons lede.”
Mathews, as voorsitter, en mnr. Richard Krige, as ondervoorsitter, is onbestrede herkies. Mnr. Jeremia Mathebula, is ook tot ondervoorsitter verkies. Mnr. Ramodisa Monaisa, wat voorheen hierdie posisie beklee het, verteenwoordig die ontwikkelende produsente.