Die landboubedryf in die Vrystaat is dié week in die Arbeidsdepartement se visier met blitsinspeksies wat gedoen word en groot ongemak ná vloede en swaar reën veroorsaak.
Mnr. Henk Vermeulen, hoof uitvoerende beampte van Vrystaat Landbou (VL), sê hulle is nie amptelik oor die blitsveldtog in kennis gestel nie.
“Ons hoor maar daarvan deur die media en van die boere wat ons bel omdat hulle aangesê word om die inspekteurs eenvoudig te ontvang. Daar is hoeveel boere wat dié week skarrel om lande reg te kry en skade te bereken ná die groot reën van verlede week.
"Ander probeer om hul oeste van die lande af te kry. ’n Boer het vroeër gebel en gesê hy het vir ’n inspekteur gesê hy moet maar ná vyf kom, want omdat dit nie vooraf gereël is nie, kan hy hom nie eenvoudig help nie,” vertel Vermeulen.
Geen protokol gevolg
Vermeulen sê dit is vir hulle onaanvaarbaar dat die departement nou, sonder om enige protokol te volg, so ’n veldtog onderneem. “Daar is protokol gereël, wat die departement óók onderteken het.”
Vermeulen sê van die inspekteurs kom sonder dat enige kontak gemaak is, op ’n plaas aan, en van die boere raak moeilik, want hoe moet ’n boer weet wie dit is en of dié persoon werklik van die departement is.
Luidens ’n verklaring van die departement word die veldtog onderneem om seker te maak dat aan die spesifieke werkstoestande vir plaaswerkers voldoen word, veral aangaande lone, ure wat gewerk word, verlof, die voorkoming van kinderarbeid en gedwonge arbeid, afdankings en inligting oor vergoeding.
Die departement noem in die verklaring dat hy vroeër vanjaar aangekondig het dat inspekteurs nou deur ’n vertaler of lede van die Polisie vergesel kan word na werksplekke waar probleme ondervind word.
’n Rede?
Vermeulen sê hulle vermoed dat dié veldtog onderneem is ná onlangse probleme met tydelike arbeid op plase. Hy sê ’n huishulp het ’n boer verkla omdat sy nie die volledige loon betaal word wat vir ’n heeltydse huishulp vasgestel word nie.
Hy sê die huishulp is wel nie die volle loon betaal nie, omdat sy slegs ’n tydelike werker is en vir die sekere hoeveelheid ure wat sy werk vergoed word.
“Daar is oor die storie in die plaaslike media berig, maar ons moes die beriggewing regstel, aangesien al die feite nie oorgedra is nie en vingers na die boer gewys is.”
13 Junie 2011