
Die Kaapse data-ontledingmaatskappy Aerobotics sprei sy vlerke nadat hy ’n gesamentlike R8 miljoen-befondsingbelegging van 4Di, ’n Kaapse waagkapitaalmaatskappy wat in tegnologie spesialiseer en die Savannah-fonds van Kenya ontvang het.
Aerobotics, wat drie jaar gelede sy deure geopen het, spesialiseer in die verwerking van data om akkurate gewasgesondheid en -groei, grondvog- en oesberaming-inligting aan boere te verskaf. Volgens mnr. James Paterson, medestigter van die maatskappy, sal hierdie befondsing help om hul bedrywighede in Afrika, die Verenigde Koninkryk en Australië uit te brei.
“Die magdom entrepreneurservaring tussen 4Di en die Savannah-fonds gaan ons baie help om in die presisieboerderyspasie uit te brei.”
Hommeltuie en die landbou
Volgens mnr. Anton van Vlaanderen, ’n vennoot by 4Di, is die hommeltuigbedryf reeds winsgewend en die potensiaal daarvan in die landbou is ooglopend. “Die mengsel van uitsonderlike vaardighede binne die Aerobotics-span sal hulle help om ’n groot uitdaging in die vinnig groeiende bedryf te takel.”
’n Besturende vennoot van die Savannah-fonds, mnr. Mbwana Alliy, is opgewonde om te sien hoe die diens wat Aerobotics bied, landbouprodusente in Afrika suid van die Sahara help om beter bestuursbesluite te maak soos wat die koste van hommeltuie en ander lug-datatoestelle daal.
“Dis net ’n kwessie van tyd voordat die ganse landboubedryf hommeltuigtegnologie gaan begin gebruik. Dit gaan net meer interessant raak om te sien hoe selfs kleinskaalse boere hierdie tegnologie aanwend.”