Op dieselfde dag dat hy teleurstellende finansiële resultate bekend gemaak het, het die kommoditeitsvleisreus Tyson aangekondig hy gaan ses aanlegte van die Brasiliaanse vleisverwerker BRF koop, onder meer in Asië en Brittanje, vir $340 miljoen (sowat R4 685 999 000).
Dit raak moeiliker om vleis as kommoditeit te verkoop, soos wat Tyson reeds jare lank doen. Weens hoër produksie in Amerika is pryse vir vark- en hoendervleis laer, en dis onwaarskynlik dat dié afwaartse neiging gaan verander. Amerikaners raak ook meer gesondheidsbewus en verlang meer plantproteïen weens die persepsie dat dit meer omgewingsvriendelik is.
Om by dié neigings in te val, wil Tyson hom meer op waardetoegevoegde produkte toespits, soos voorafgesnyde vleise en klaargemaakte kosse. Buiten aandele in maatskappye wat vegetariese vleisvervangende produkte maak, beloof die maatskappy om ook in komende weke nuwe, alternatiewe proteïenprodukte bekend te stel. — Bloomberg