Die Brasiliese plaag-en-onkruiddoderbedryf is bekommerd dat die ontwrigting van Chinese fabrieke weens die Covid-19-virus die voorsiening van insette vir die 2002-’21 oesjaar in Brasilië kan onderbreek. Dié land is baie afhanklik van China vir sy gifstowwe. Verlede jaar het 38% van Brasilië se ingevoerde plaagdoders uit China gekom.
Altesaam 99% van glifosaat, een van Brasilië se gewildste onkruiddoders, is uit China ingevoer. Die Brasiliese landbouchemiese bedryfsliggaam Sindiveg sê daar is kommer dat tekorte by boere kan ontstaan. Brasilië het vanjaar 2,4% meer hektaar graan aangeplant as verlede seisoen. — Financial Post
Die Australiese uitvoervrugtebedryf maan dat die Covid-19-pandemie ’n nadelige uitwerking kan hê op die beskikbaarheid van seisoensarbeid, insetbeskikbaarheid en die lewering van vrugte aan sleutelmarkte. Volgens mnr. Nathan Hancock, uitvoerende hoof van Citrus Australia, kan agterstande in logistiek oponthoude met verskeping veroorsaak.