Brasiliaanse vleisuitvoermaatskappye stel voor dat alle vleis wat na China uitgevoer word, getoets word wanneer dit land om te bewys dat dit veilig is. Dié voorstel kom ná China vroeër vandeesmaand invoer vanuit vyf Brasiliaanse vleisaanlegte verbied het – twee varkvleisaanlegte, twee vir beesvleis en een vir hoender.
Mnr. Francisco Turra, hoof van die uitvoermaatskappy ABPA, het dié voorstel aan die land se departement van landbou gemaak en het teen druktyd op ’n antwoord gewag. Hy meen daar is geen wetenskaplike gronde vir dié soort verbod nie.
Hoewel China nie duidelikheid gegee het oor redes vir die verbod nie, sê Turra die Chinese regering se verbod was ’n poging om verbruikerskommer oor “wyd gepubliseerde” koronavirus-uitbrekings en fabrieksluitings te stil. By al die aanlegte waarvan vleis deur China verbied is, was daar koronavirusgevalle onder werkers. – Bloomberg