Die Brasiliaanse deelstate Rio Grande do Sul en Paraná is deur die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) verklaar as vry van bek-en-klouseer sonder inenting.
Tot dusver was Santa Catarina die enigste deelstaat wat sedert 2007 dié status gehad het, en dit is tans verantwoordelik vir nagenoeg ’n derde van die land se varkproduksie en die helfte van die land se varkvleis-uitvoer. Die deelstaat kon veral munt slaan uit varkvleistekorte in China.
Na verwagting sal Rio Grande do Sul en Paraná se nuwe status Brasilië se varkvleis-uitvoervolume vanjaar met 10% verhoog, selfs tot 35% teen 2022, vergeleke met 2020-volumes.