Kanada se koringoes is groter as wat verwag is en die kanola-oes die grootste in drie jaar. Volgens dié land se regering se oessyfers bons produksie sterk terug nadat erge droogte die vorige oes benadeel het.
Dit is goeie nuus in die lig van die oorlog in Oekraïne. Kanada is die wêreld se derde grootste uitvoerder van koring en die grootste uitvoerder van kanola.
Die land se statistiekdiens beraam die totale koringoes op 34,6 miljoen ton, 55% meer as verlede jaar en meer as die gemiddelde van 34 miljoen ton. Boere sal na verwagting 19,5 miljoen ton kanola oes, 42% meer as in 2021.