Soos dikwels die afgelope jare is die landbou egter ’n staatmaker wat na verwagting in 2023 weer sy staal sal toon.
Ekonome praat soms van iets wat onverwags gebeur as ’n swart swaan – ’n uiters uitsonderlike gebeurtenis wat verreikende gevolge het. Aan die begin van 2022 was die moontlikheid van ’n Russiese inval in Oekraïne nie hoog op die lys van faktore wat ekonome en finansiële instellings laat wakker lê het nie.
Dit was eerder onsekerheid oor die omikron-stam van covid-19 en of die wêreldekonomie die pandemie-nagevolge kon afskud, wat as moontlike remskoene genoem is.