
Isuzu-motors Suid-Afrika (IMSA) het deur een van sy handelaars, Motus Isuzu Isando in Johannesburg, twee FVZ 1400-vragmotors aan Boerehulp Suid-Afrika geskenk.
Een van die eerste ritte wat dié voertuie onderneem, is vir die vervoer van voer na die distrik Van Wyksvlei in die Noord-Kaap en Tolwe in Limpopo.
“Die vragmotors sal deurlopend ingespan word om voer aan behoeftige boere te lewer,” sê mnr. Le Roux Roux, die handelaarshoof van Motus Isuzu.
Me. Ronel Steenkamp, sê die droogtesituasie in die Noord-Kaap is steeds kritiek, ten spyte van goeie neerslae wat elders in die land aangeteken is. “Een produsent moes haar hanslam laat slag om haar kind terug te stuur universiteit toe. Dit is hartsverskeurend om boere se dankbaarheid vir slegs enkele bale voer te beleef net om hul diere aan die gang te hou.”
Boerehulp SA benodig ook skenkings van kruideniersware vir behoeftige gemeenskappe en brandstof vir die voertuie.
Volgens Roux het produsente in Mpumalanga en die Vrystaat onlangs goeie reën gehad, wat die vooruitsig van ’n goeie someroes versterk het, in teenstelling met boere in die noorde van Limpopo wat van hul wild moes uitdun, asook droogtetoestande in die Noord- en Oos-Kaap.