Ál meer van Suid-Afrika se opgehoopte mielies word tans na Italië (’n nuwe koper) uitgevoer. Luidens ’n berig in Sake24 (17 Maart) is dit die eerste keer in 14 jaar wat dié land mielies van Suid-Afrika af kry. Daar word tans ook met Venezuela oor die invoer van dié gewas onderhandel.
Volgens die SA Graan-inligtingsdiens (Sagis) het Suid-Afrika tans 5,2 miljoen ton opgehoopte mielies, wat dubbel die verwagte uitvoervolume vir die jaar is.
Nuwe markte
Mnr. Barrett Schoeman, woordvoerder van Graan SA, sê sedert die begin van die huidige bemarkingsjaar op 1 Mei verlede jaar het Suid-Afrika reeds 934 677 ton mielies na Italië, Suid-Korea, Koeweit, Japan en Spanje uitgevoer.
Hoewel Suid-Afrika se uitvoer gewoonlik op ander Afrika-lande toegespits is, moes dié fokus gedeeltelik verskuif word omdat baie van dié lande ook groot mielie-oeste gehad het.
Na verwagting sal sowat 800 000 ton wit mielies teen die einde van die bemarkingsjaar op 30 April vanjaar uitgevoer wees en 1,2 miljoen ton geel mielies.
Dié verwagte uitvoer asook die Safex-prys van R1 532 per ton mielies wat Woensdag (16 Maart) vir die lewering van wit mielies in Julie behaal is, laat boere glimlag. Dié prys is 38% hoër vergeleke met dieselfde tyd verlede jaar. Die geelmielieprys het ’n 20%-styging aangeteken.
Bron: Sake24
17 Maart 2011