
Alles dui daarop dat ’n inentingspaspoort moontlik ingestel gaan word voordat die vierde covid-19-golf Suid-Afrika soos voorspel in Desember gaan tref, het Landbou.com vasgestel.
Die kabinet het die moontlike instelling van ’n digitale inentingspaspoort bespreek op sy lekgotla wat gisteraand ten einde geloop het. Pres. Cyril Ramaphosa het met die aankondiging dat Suid-Afrika op ’n vlak 2-inperking sal wees, aangedui dat nog inligting binnekort gegee sal word oor ’n stelsel van inentingspaspoorte wat gebruik kan word as bewys van inenting vir verskeie doeleindes en die bywoon van geleenthede.
Dit is een van die pogings om mense aan te moedig om hulle te laat inent teen die covid-19-virus.
Die toepassing van ’n inentingspaspoort en die kontroles wat nodig is om die geloofwaardigheid van so ’n paspoort te beskerm, sal ’n groot probleem vir die staat wees, meen mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.
Van der Rheede sê die vervalsing van so ’n paspoort is moontlik en dit gaan baie moeilik wees om so ’n stelsel te polisieer. Hy glo dat so ’n paspoort ’n groot rol in die toekoms sal speel.
“Ek meen dit gaan vorentoe toenemend ’n vereiste word om die veiligheid van werkers en werknemers wat ingeënt is, op ’n plaas, in enige fabriek of enige ander plek waar landbouprodukte opgeberg, verpak of verwerk word, te verseker.
“Ook gaan dit as ’n vereiste gestel word om mense wat nie ingeënt is nie en wat inenting weier, te beskerm.”
Volgens Van der Rheede gaan dit dus toenemend belangrik word dat plaaseienaars en landboubesighede hulself beskerm teen eise wat iemand kan instel as daardie persoon kan bewys dat hy of sy deur die covid-19-virus op ’n plaas óf in ’n landboubesigheid se fabriek óf perseel aangesteek is.
Hy sê dit is moeilik is om te bepaal hoeveel mense in die landbousektor al ingeënt is, maar die aanduiding is dat landboumaatskappye en bedryfspesifieke entiteite met groot hoeveelhede werkers al ver gevorder het met inentings.
Individuele besluit
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê inenting moet elkeen se individuele besluit bly. Daar is rasionaal daaragter. “Hulle sê vir ons as jy jou laat inent, kan jy steeds die virus kry en jy kan dit steeds oordra, maar jy’t ’n kans dat jy nie so siek word daarvan nie.
“Wat is dan die verskil tussen iemand wat ingeënt is en een wat nie ingeënt is nie? Albei kan dit kry en albei kan dit oordra. As die bewering dat jy dan minder siek gaan word deur die inenting waar is, dan is dit goed vir daardie mense. Ons uitgangspunt is elke individu moet sy eie keuse kan uitoefen, dat hy self besluit of hy hom wil laat inent of nie.
“Dit is belangrik dat mens nie hier begin met inentingspaspoorte en die soort goed nie. Waar gaan dit eindig? Het ons later vir dan vir elke ding ’n paspoort, dalk ’n paspoort vir swart ekonomiese bemagtiging?”
Hy meen die staat se klem is te erg op regulering en te min om die kragte van die ekonomie te laat werk dat die ekonomie gestimuleer en aan die gang gekry word. “Ek meen die staat plaas die klem nie sterk genoeg waar dit moet wees nie. Ons het nou ekonomiese groei nodig en elke versperring wat hy geplaas het van die begin van die pandemie tot nou toe is ’n remskoen vir mense vir werksgeleentheid en skep armoede en werkloosheid. Dit is ons grootste probleem op die oomblik. Dit is ’n groter krisis as covid-19.”
Moontlike voordele
Mnr. Theo Boshoff, hoof van regsintelligensie by die landbousakekamer Agbiz, sê hulle probeer self binne die sektor koördineer om inentings toeganklik te maak vir besighede in die landelike gebiede.
“Ons ondersteun die dryf vir inentings in die algemeen. Ek glo steeds die mikpunt moet wees om genoeg mense in te ent en kudde-immuniteit te kry, maar dit is waarskynlik nog ’n hele ruk weg.”
Hy sê ’n inentingspaspoort is miskien ’n goeie idee as ’n tussentydse stap aangesien byeenkomste soos Nampo ook noodsaaklik is vir die bedryf. As ’n inentingspaspoort kan help om sulke byeenkomste toelaatbaar te maak, kan dit help.
Die grootste potensiële voordeel sal met oorgrensvervoer wees. Die landboubesigheidsektor sukkel met vertragings by die grensposte aangesien die vragmotorbestuurders sneltoetse vir covid-19 by die grens moet ondergaan voordat hulle verder mag ry. Die gesondheidsowerhede by die grensposte is net bedags daar, wat beteken die grensposte wat eintlik van 04:00 tot 22:00 moet werk, is net in die dag oop.
Dit het ’n groot impak op vervoer en voedselsekerheid aangesien Suid-Afrika se landbouprodukte, veral graan, padlangs met vragmotors na lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) vervoer word. As ’n inentingspaspoort pleks van ’n sneltoets aanvaar word, dan kan dit die knelpunte by die grensposte baie verlig.