Die JDP-diamantmyn op die dorp se slikdam se wal het op Sondagoggend 11 September gebreek en groot skade op die dorp en omliggende plase veroorsaak.
“By my en my broer alleen is meer as 1 000 ha weiveld onder omtrent ’n halwe meter slik,” vertel mnr. Pieto Louw, 'n boer en lid van die boerevereniging by Jagersfontein. “Ek gaan nuwe boorgate moet sink net om drinkwater vir my beeste te kry, want die ander water is nou ondrinkbaar.”
Die slik het in die Prosesspruit ingeloop, waaruit verskeie boere gewasse en weiveld besproei. Volgens Louw is al die boere besig met skade-opnames, maar hy skat sowat 20 boere word direk deur die ramp geraak.