Die ANC Jeugliga meen Afriforum probeer demokrasie ondergrawe met sy hofsaak teen mnr. Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, aldus die jeugliga se besprekingsdokumente vir sy 24ste nasionale kongres wat van 16 tot 20 Junie in Johannesburg plaasvind, berig Rapport.
Malema is tans in ’n hofsaak met Afriforum en die TLU SA gewikkel oor sy singery van die “Skiet die Boer”-lied. Vrydag is krete, soos “Kill the Boer” en “Kill Afriforum” deur Malema-ondersteuners buite die hof geskree.
‘Viering van vryheid’
Regter Colin Lamont moes ook hofverrigtinge vertraag omdat hofgangers geraas het terwyl mnr. Derek Hanekom, Adjunkminister van Wetenskap en Tegnologie, getuig het.
Dit ten spyte daarvan dat Hanekom namens die ANC getuig het dat die sing van die betrokke lied ’n viering van vryheid is en nie as haatspraak of aanhitsing gesien kan word nie.
Hanekom het ook gesê dat die ANC en Afriforum met mekaar moet praat. Die jeugliga het in sy kongresdokumente aangedui dat hy sal aanhou baklei vir die behoud en voortdurende gebruik van struggle-liedere.
Bron: Rapport
18 April 2011