‘n Rekord-omset van R2,7 miljoen is aan klere en speelgoed by die John Deere-winkel op die Nampo-Oesdag bestee.
Mnr. Carel Theron, bemarkingshoof van John Deere in Suid-Afrika, sê vanjaar se omst van R2,7 miljoen is heelwat meer as die vorige jaar se van R1,6 miljoen.
“Die stalletjie se gewildheid neem jaar na jaar toe. Ons het die winkel die afgelope drie jaar stelselmatig vergroot om beter vloei te bewerkstellig, maar steeds staan mense geduldig tou by betaalpunte. Ons skryf dit toe aan die krag en gewildheid van ons handelsmerk, en glo dat ons klere- en speelgoedreeks ‘n treffer is onder alle ouderdomsgroepe,” vertel Theron.
John Deere 50 jaar in SA
Die maatskappy word reeds 50 jaar lank in Suid-Afrika verteenwoordig, en Theron sê dié jaar is hulle reeds sowat 40 jaar lank by die Oesdag betrokke.
Die stalletjie het vir die eerste keer in 2004 begin verhandel toe klere en speelgoed daar verkoop is. Dié jaar se omset was R400 000.
Theron sê die stalletjie is al ‘n instelling by die Oesdag, en kollegas uit John Deere-fabrieke in ander lande besoek dit ook. “John Deere is al ‘n instelling op Nampo, want kliënte verwag van ons om daar te wees. Dit gee hulle ‘n geleentheid om met ons te gesels en uit te vra. Dit gee kliënte ook ‘n geleentheid om met ons spesialiste te praat en sodoende inligting te verkry, en ook om met van ons bestuur te gesels - waarvoor daar nie altyd deur die jaar kans is nie.”
24 Mei 2012