
Hy is op Nampo Kaap as wenner aangewys en het met ’n kontantprys van R60 000 weggestap, wat hom in staat stel om aan die Calgary Stampede se internasionale afslaerskompetisie in Kanada deel te neem.
Die afslaerskompetisie is ’n projek van Plaas Media wat jong en aspirant-afslaers die geleentheid bied om ’n loopbaan as afslaer van lewende hawe te ondersoek.
Dié kompetisie het al afslaers soos mnre. Steven Matthews, Gavin Matthews, Barco van Niekerk en vele ander opgelewer.
Ná twee jaar waartydens die kompetisie weens covid-19-inperkings aanlyn aangebied is, het dit vanjaar weer op verskeie streekskoue reg oor Suid-Afrika plaasgevind.
Vier streekrondtes is vanjaar gehou met die eindronde op 16 September vir die eerste keer op Nampo Kaap in die BKB-veesentrum. Weens ander verpligtinge kon van die streekwenners nie aan die eindronde deelneem nie.
Die beoordelaars was mnre. Appie Maritz, afslaer by BKB, Andrew Miller, vryskutstoetvee-afslaer en afslaer by In2Assets, en Hein Vollgraaff, voormalige afslaer by BKB.
Mnr. Pierre Vlok van BKB was die seremoniemeester.
Die ses deelnemers wat uiteindelik aan die eindronde deelgeneem het, moes elk twee lotte in die skynveiling opgeveil.
Die diere wat onder die hamer gekom het, was deel van die BKB Merino Classic-skou.
Die wenner en naaswenner se telling het uiteindelik met net een punt verskil. Mnr. Fiso Hadebe was tweede en mnr. Vincent Pike derde.
Só vaar deelnemers tydens streekrondtes
Vanjaar se kompetisie het 15 inskrywings opgelewer, waarvan ses deelnemers op Bloemskou, die eerste streekrondte van die jaar, deelgeneem het.
Mnr. Jurie Burger was eerste met mnr. Vincent Pike tweede en mnr. Chris Goosen derde.
In die volgende rondte by die Hoër Landbouskool Marlow se OVK-boeredag was mnr. Johan Moolman eerste en mnr. André Herselman tweede.
Die derde streekrondte het oudergewoonte op die Royal-skou plaasgevind, Mnr. Tom Hodgson het gewen met mnr. Fiso Hadebe tweede en mnr. Hans Schutte derde.
Die laaste streekrondte is tydens die KragDag-ekspo in Gauteng gehou. Mnr. Flekkie du Toit was eerste en mnr. Ismail Laher tweede.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.