
In ’n sterk bewoorde boodskap het Schoeman gesê dat die regering heeltemal gefaal het om die talle nuwe planne vir ekonomiese ontwikkeling tot werklikheid te laat kom.
“Ons regering het geen plan om ons land te lei of te bestuur nie en ons dobber soos ’n roerlose skip sonder kaptein of offisiere op die see rond. Daar is nie een staatsdepartement wat meer funksioneer nie.”
Daarom, meen hy, sal jong boere die toekoms van die land moet bepaal deur ’n nuwe droom vir die land deur landbou daar te stel. “Hierdie inisiatiewe moet by kommersiële landbou begin, nuwe swart jong boere intrek en almal saamwerk ten einde landbou en die land te laat floreer.”
“Niemand het destyds verwag die Titanic gaan die ysberg tref nie. Moenie oorgerus wees en aan die slaap gevang word nie.”
Schoeman het ook verwys na die bydrae van African Farming, Landbouweekblad se tydskrif en TV-program gemik op opkomende boere, wat help om die mooi storie wat landbou die afgelope 28 jaar bereik het, uit te dra. “Dit help skep aan ’n nuwe kollektief, spesifiek vir ons platteland.”
Kyk hier na die volle video:
*Schoeman het virtueel deelgeneem aan Senwes se Toekomsfokusdag. Sy sienings is sy eie. Die video is met die vergunning van Brand Republic beskikbaar gestel.