
’n Nuwe studie deur die Credence-instituut in Suid-Afrika en North Mountain Consulting Group in Amerika het gevind dat verbruikers plantgebaseerde en gekweekte vleis in die toekoms grootliks sal aanvaar. Altesaam 1 087 mense van 18-61 het aan die studie deelgeneem. Hulle was verteenwoordigend ten opsigte van ouderdom, geslag, ras en inkomste.
Dié twee produkte kan help om die vraag na proteïen in die toekoms te bevredig.
Die studie wat in die vaktydskrif Frontiers in Sustainable Food Systems gepubliseer is, is sover bekend, die eerste in sy soort in Afrika waar verbruikers se indrukke rakende dié twee produkte ontleed is. “Die feit dat die meeste Suid-Afrikaners skynbaar gereed is om die produkte aan te neem, vul my met hoop,” sê mnr. Ludwig Raal, medestigter van die Credence-instituut.
“Deur om te skakel na alternatiewe proteïene soos plantgebaseerde en gekweekte vleis kan een van die beste beskikbare strategieë wees om die omgewing, openbare gesondheid en die lewe van diere te verbeter.”
Dr. Keri Szejda, hoofnavorser van die studie, sê hulle het bevind dat plantgebaseerde en gekweekte vleisprodukte ’n gesonder, volhoubaarder en billiker proteïenbron in Suid-Afrika en ander opkomende en ontwikkelende lande kan wees.
“Verbruikers voorspel gemiddeld dat alternatiewe proteïene ongeveer twee derdes van hul vleisverbruik sal uitmaak sodra die produkte algemeen beskikbaar is. Jonger mense is veral meer vatbaar vir die nuwe tegnologieë.”
Volgens die studie is kultureel aanvaarbare alternatiewe proteïenbronne een van die beste beskikbare opsies om voorsiening te kan maak vir die groeiende vraag na vleis, veral in ontwikkelende lande waar verbruikers minder geneig sal wees om hul vleisverbruik te verminder.
Daar word voorspel dat vleisverbruik in ontwikkelende lande soos Suid-Afrika, waar dit reeds hoog is, aansienlik kan toeneem weens vinnige bevolkingsgroei, ’n toename in inkomste en verstedeliking. Hoër vleisverbruik plaas egter verdere druk op Suid-Afrika se reeds skaars hulpbronne en kan bydra tot die toename in lewenstylsiektes soos vetsug en hartvatsiektes.
Bevindinge
Nagenoeg 67% van die deelnemers het aangedui dit is hoogs waarskynlik dat hulle plantgebaseerde vleis sal beproef, met 59% wat sê dit is hoogs waarskynlik dat hulle dit sal aankoop en 31% wat sê hulle sal meer betaal daarvoor.
Altesaam 60% van die deelnemers het aangedui dat hulle gekweekte vleis sal beproef, met 53% wat sê hulle sal hoogs waarskynlik die produkte aankoop en 30% wat meer daarvoor sal betaal.
Jonger mense was geesdriftiger oor die produkte, met born frees (gebore ná 1994) en millenniërs (28-41 jaar) wat meer geneig sal wees om die produkte te beproef en te koop as lede van Generasie X (42-61 jaar oud).
Daar is ook gevind dat bekendheid met die tegnologie een van die beste voorspellers is van wie die produkte sal aankoop. Verbruikers se aankoopkeuse is verder beïnvloed deur die voordele vir gesondheid, plaaslike voedselsekerheid en die omgewing.
Sosiodemografiese eienskappe soos ouderdom, geslag, ras, geloof, taal en provinsie was nie belangrike faktore wat aandui wie die produkte sal aankoop nie.
Verbruikers het voorspel dat die verbruik van plantgebaseerde, gekweekte en konvensionele vleis, waar al drie geredelik beskikbaar is, jaarliks min of meer eweredig versprei sal wees tussen die drie groepe.
Die studie is gratis hier beskikbaar.