Mnr. Julius Malema, voormalige leier van die ANC-jeugliga, is vir vyf jaar uit die ANC geskors.
Malema is onder meer skuldig bevind daaraan dat hy verdeelheid binne die ANC gesaai het sowel as dat hy die ANC in oneer bring. Dié klagte het te doen met Malema se uitsprake oor die Afrika-unie, die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Botswana-regering.
Mnr. Floyd Shivambu, voormalige woordvoerder van die ANC-jeugliga, is vir drie jaar uit die ANC geskors nadat hy ’n joernalis van Media 24 gevloek het.
Mnre. Ronald Lamola, adjunkleier van die jeugliga, Sindiso Magaqa, sekretaris-generaal, Kenetswe Mosenogi, adjunk-sekretaris-generaal, en Pule Mabe, tesourier-generaal, is saam met Malema en Shivambo skuldig bevind daaraan dat hulle ’n vergadering van die ANC ontwrig het. Hulle is vir twee jaar geskors, maar dit is vir drie jaar opgeskort.
Die groep se straf is Donderdagoggend (10 November 2011) by Luthuli-huis bekend gemaak. Die groep het 14 dae om appèl teen die straf aan te teken.
Bron: Nuus24
10 November 2011