Boere moet hul finansiële veiligheid net so ernstig opneem soos hul paraatheid op die plaas wanneer hulle aanvallers moet afweer. Hulle moet soortgelyk hulself finansieel beskerm en tande wys wanneer die skuldeiser of kurator aan die deur klop.
Só meen ’n regskenner wat sukkelende boere en sakemanne bystaan in hul stryd om nie voortydig gesekwestreer of gelikwideer te word nie, en hul bates en toekoms so ver moontlik beskerm.
Mnr. Hennie du Plessis van HSL Prokureurs op Kroonstad sê die dae is verby dat dit gehelp het dat boere vriende met almal, waaronder die bank- bestuurder, was.