Ná ’n moeilike jaar vir landbousake verwag die landboudienstegroep Kaap Agri beter resultate in die huidige boekjaar.
Kaap Agri se omset van R3,8 miljard vir die afgelope boekjaar wat op 30 September geëindig het, is 10% hoër as die vorige jaar. Tog is die groep se totale aangepaste wesensverdienste vir die jaar, wat Pioneer Voedsel op ’n geëkwiteerde grondslag insluit, R298,3 miljoen. Dit is 14,9% laer is as die vorige jaar.
Mnr. James Matthee, finansiële direkteur van Kaap Agri, sê al is hul wins “aan die platterige kant”, is hulle tevrede, veral in die lig daarvan dat die koringoes wat in die tydperk ter sprake is, die laagste aanplantings in dekades verteenwoordig.
Hoewel Kaap Agri se aandeelhouers vanjaar ’n dividend gaan ontvang, is die totale dividend van 16,5c per aandeel laer as die vorige jaar se 24c. “Die dividend van 16,5c per aandeel verteenwoordig die volle dividend wat ons van Pioneer Voedsel ontvang het, minus die koste van ontbondeling, plus ’n dividend vanaf die bedryf.
“Die koste van ontbondeling is van die Pioneer-dividend verhaal aangesien die ontbondeling veral die beleggingskant bevoordeel en nie ’n koste van die bedryfsmaatskappy se minderheidsaandeelhouers kan wees nie.
"Ons meen die verlaging is ’n eenmalige verlaging en dat die dividende toekomstig weer ‘normaal’ sal wees.”
“Die ontbondeling behoort teen 15 Desember 2012 afgehandel te wees en dan sal die groep se aandele in twee afsonderlike entiteite, naamlik Kaap Agri Beperk (die bedryfsarm) en Agri Voedsel Beperk (die Pioneer-belegging) verhandel.”
8 Desember 2011