
Die talle brande wat die afgelope paar weke rondom Kaapstad opgevlam het, het die Stad Kaapstad agterdogtig oor die eintlike oorsaak van die vlamme. Dít volgens mnr. JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid.
“Die vlaag brande is verdag en ons het ’n span wat die situasie ondersoek,” sê Smith. “Die somermaande is moeilik genoeg, met warm, droë toestande en ’n sterk suidooster.”
Smith het versoek dat diegene wat verdagte bedrywighedet opmerk, dit so gou moontlik aanmeld. Volgens Smith kan die owerhede nie brandstigting as ’n moontlikheid ignoreer nie.
75 brande ’n dag
Volgens Smith het die Stad Kaapstad tussen 1 November en 12 Januarie 5 465 brande bestry, wat ’n gemiddeld van 75 per dag is.
Smith het ook inwoners versoek om baie versigtig met oop vlamme en vlambare materiaal om te gaan.
Intussen het brande naby die Paarl daartoe gelei dat die Du Toitskloof-pas gister vir etlike ure gesluit was. Brandbestryders het ook ’n brand in die Hawequa-berge naby Paarl en Wellington bestry.