Die Graanboere Groep Bpk. (GGB) op Moorreesburg kon nie genoeg stemme kry om beperkings op aandeelhouding op te hef wat die weg kon baan vir ’n aanbod van Senwes nie.
Dit volg op ’n aanduiding van Senwes dat hy daarin belang stel om ’n noemenswaardige hoeveelheid aandele in die GGB te bekom en dat hy ’n voorwaardelike vrywillige aanbod van R25,50 per aandeel aan die aandeelhouers van die GGB sou maak.
Die groep hou 100% van die maatskappy Moorreesburgse Koringboere (Edms.) Bpk. (MKB) se uitgereikte aandele, terwyl 446 aandeelhouers (beleggers en boere) die uitgereikte aandele in die GGB hou.
Nie ten gunste nie
Volgens mnr. Eugene Koekemoer, besturende direkteur van MKB, het net 61% van die aandeelhouers ten gunste daarvan gestem om al die statuutbeperkings op die verhandeling van aandele op te hef indien ’n beoogde aanbod van Senwes vir die koop van die GGB se aandele gemaak word. Die direksie het 75% stemme nodig om só ’n besluit te bekragtig.
Volgens Koekemoer is die direksie daarvan oortuig dat die GGB se aandeelhouers, boere en die gemeenskap van Moorreesburg sal baat vind by Senwes se betrokkenheid omdat dit die MKB “se voortbestaan as ’n lewensvatbare landbou-bedryfsmaatskappy in ’n hoogs mededingende besigheidsomgewing sal versterk”.
Kaapse landbou-ondernemings se transaksies en onderhandelinge word gewoonlik onder die vergrootglas geplaas. Dié onderhandelinge is geen uitsondering nie – veral omdat die maatskappy ook ’n aandeel van amper 10% in die Pioneer Voedselgroep hou.
20 Februarie 2012