
Al meer groenteboere trek hul wortels uit die Kaapse Vlakte en Philippi om dit in die Swartland te gaan plant, sê mnr. André Halvorsen, prinsipaal van die eiendomsagentskap Agrifarms.
Volgens hom veroorsaak verstedeliking en misdaad dat groenteboere grond noord van Kaapstad soek en dan veral kyk na plase in die Malmesbury- en Hopefield-omgewing asook langs die Bergrivier.
Goeie groentegrond met spilpunte en voldoende water behaal maklik pryse van sowat R125 000 tot R150 000/ha.
Halvorsen, wat al 25 jaar lank plase bemark, sê baie van die navrae oor plaasgrond in die Wes-Kaap wat hy deesdae kry, is van boere uit die noorde van die land wat wil trek weens steenkoolmyne en grondeise van waar hulle kom.
Halvorsen sê die Swartland is bekend vir bestendige goeie opbrengs per hektaar. “My skoonpa, Joepie de Kock van die De Grendel-landgoed naby Malmesbury, boer al 50 jaar aktief en sê hy het al ‘n swak oes gehad, maar nog nooit ‘n misoes nie.”
Halvorsen sê daar is ’n goeie vraag na grond vir die verbouing van koring, groente en wyn asook gemengde boerdery. Goeie koringproduksiegrond in die Swartland het al pryse van tot R50 000/ha behaal.
'n Koringplaas van 640 ha het verlede jaar teen R42 000/ha verkoop, met 550 ha van die plaas wat bewerkbaar is. Wynplase met oplei-wingerde en 50% wit en 50% rooi druiwe kan sowat R140 000/ha kos indien die plaas se opbrengs 10 tot 12 ton/ha is en die wingerdstokke se gemiddelde ouderdom so 12 jaar is.
In die Darling-omgewing behaal Koringberg-grond egter tussen R10 000 en R20 000/ha, omdat die opbrengs hier gewoonlik laer per hektaar is.
Halvorsen sê die afgelope dekade was die neiging dat landbougrond se waarde met 8% tot 12% gegroei het. Die huidige politieke klimaat kan egter volgens hom ’n demper op die groei plaas.
“Daar is steeds ’n vraag na landbougrond in die Wes-Kaap, maar sekerheid oor grondtransformasie moet so gou moontlik opgelos word sodat boere en werkers kan voortboer om voedselsekerheid vir Suid-Afrika te verskaf.”