
Dit het onder meer tot gevolg dat sommige wingerde in dele van die Wes-Kaap vroeg begin bot.
Dr. Andries Kruger, hoofnavorser vir klimaatdata by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, sê vanweë die goeie reën in die Wes-Kaap in Mei is algemeen aangeneem dat temperature in Junie en Julie nie buitengewoon hoog sou wees nie. “As ’n mens die temperature vir Junie en Julie vanjaar met die temperature in die ooreenstemmende maande in vorige jare vergelyk, is die afgelope twee maande se temperature egter die hoogste tot nog toe.”
Die gemiddelde maksimum en minimum temperature vir Junie en Julie vanjaar was onderskeidelik 19,5 °C en 8,9 °C. "Dié gemiddelde vir die tydperk van 1981 tot 2010 is 17,9 °C en 7,6 °C. Die maksimum temperature was vanjaar dus gemiddeld 1,6 °C bo-normaal en die minimum temperature 1,3 °C.”
Kruger sê ’n hoogdrukstelsel het die afgelope paar weke oor die land voorgekom. Dit het die aflandige stroming van weerstelsels oor die Suidwes-Kaap en Noord-Kaapse kusgebiede tot gevolg gehad, wat ’n groot rede vir die bo-normale temperature kon wees.
Wingerde bot al
Dié bo-normale temperature het daartoe bygedra dat sommige wingerde, veral in dele van die Hemel-en-Aarde-vallei, begin bot het. Mnr. Kwagga Boucher, wingerdboukundige van Ataraxia Wyne op die rand van die Hemel-en-Aarde-vallei, sê die Chardonnay-wingerde op dié landgoed het begin bot.
“Die gemiddelde maksimum temperature wat ons in Julie vanjaar op die landgoed gemeet het, is 3,5 °C hoër as in die ooreenstemmende maand verlede jaar,” sê Boucher. Van die wynboere in die omgewing van Darling en Stellenbosch het ook vir Boucher gesê dat hul Chardonnay-wingerde vroeg begin bot het.
Boucher sê hulle is bekommerd oor die impak wat die koue wat gewoonlik in Augustus in die gebied voorkom, kan hê op die wingerde wat bot.
Mnr. Francois Viljoen, bestuurder van Vinpro se wingerdkundige konsultasiediens, sê Chardonnay is ’n kultivar wat geneig is om vroeg te bot as die klimaatstoestande daartoe bydra. “Wingerde wat verlede jaar erg onder die droogte deurgeloop en die afgelope paar maande goeie reën gekry het, kan ook daartoe geneig wees.”
Viljoen sê die verskynsel is nog nie wyd by hulle aangemeld nie, maar geïsoleerde gevalle kom wel voor. Volgens Viljoen is dit belangrik dat lote wat op hul punte bot, weer teruggesnoei word. Die kouer weer wat vir die volgende paar weke verwag word, kan ook daartoe bydra dat die wingerde wat begin bot het, weer dormant word en na ’n staat van rus terugkeer.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.