
Volgens Transnet-haweteminale (TPT) is daar nie meer opgehoopte vragte by die hawe nie. Al die werknemers by die hawe is volgens die TPT terug op hul pos ná die staking van 6 tot 17 Oktober.
Die laaste twee vragskepe wat gewag het om in die hawe vas te meer, is nou veilig in die hawe.
“Ons gaan nou konsentreer op ander vragskepe wat by die Kaapstad-vraghouerterminaal wil vasmeer,” luidens die verklaring.
Nuwe hyskraan
Die Kaapstad-vraghouerterminaal beoog om teen volle kapasiteit bedrywig te wees met die uitvoerseisoen van sagtevrugte wat teen middel November in volle gang sal wees.
As deel van die voorbereiding vir die uitvoerseisoen is ’n nuwe hyskraan by die hawe opgerig wat ingespan word om bykomend te help om vragte tussen skepe en die land te skuif.
TPT sê hoewel projekte wat die toekomstige kapasiteit uitbrei geprioritiseer word, sal daadwerklike behoeftes om doeltreffendheid by hawens op te skerp, nie afgeskeep word nie.
Transnet hoop sy planne sal die omkeertyd van vraghantering bespoedig en dat bedrywighede by die hawe ’n suksesvolle sagtevrugte-uitvoerseisoen sal ondersteun.
Transnet is een van drie staatsondernemings wat Woensdag goeie nuus vanaf die nasionale tesourie gekry het.
Mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, het met die voorlegging van sy mediumtermynbegroting gesê Transnet kry R5,8 miljard bykomend tot sy begroting vanaf die nasionale tesourie. Dié geld sal veral aangewend word om die skade wat die vloede in April aan Durban-hawe en sy spoorwegnetwerk aangerig het, te herstel.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.