
Dienslewering geskied tans teen ’n beter pas by die hawe, en Transnet se haweterminale bly met kliënte en bedrywe saamwerk om te verseker dat landbouprodukte betyds vanaf dié hawe na internasionale markte uitgevoer word.
Luidens ’n verklaring deur Transnet is gerugte oor opeenhopings en tekorte aan toerusting vals. Tans is sewe van die agt hyskrane in die hawe werksaam, en 21 vervoerbande is beskikbaar. Die laai van die skip MSC Meltemi is gister voltooi, en laaiwerk van nog ’n skip, die Santa Clara, sou teen 22:00 gisteraand voltooi word, na gelang van die weer. Vyf skepe lê tans voor anker in die hawe, met nog ’n skip wat onderweg is. Die agterstand is luidens die verklaring uit die weg geruim en die gemiddelde wagtyd is tans 10 uur. Die haweterminaal ontvang tans 30 verkoelde vraghouers per uur.
“Transnet besef die strategiese belang van die landbousektor vir die ekonomie, en het die sektor voorrang gegee as deel van die strategie wat hy toepas. Daar is tans ingrypings om die onmiddellike bedryfsprobleme op te los, terwyl medium- en langtermynplanne om kapasiteit te vergroot, ook in werking gestel word.”
Die sagtevrugtebedryfsorganisasie Hortgro het bevestig dat produksievloei by die Kaapstad-hawe die afgelope week verbeter het. Mnr. Anton Rabe, uitvoerende hoof van Hortgro, het gesê sake verloop nou vlotter op bedryfsvlak, maar dat daar steeds groot probleme is.
“Ongelukkig het die probleme in Desember en Januarie ’n groot impak op veral die steenvrugtebedryf gehad. Ons is baie bekommerd oor die winsgewendheid van die bedryf, veral in die lig van groot stygings in produksie- en arbeidskoste, asook brandstof- en energiekoste wat drasties hoër is.
“Die bedryf werk nou met Transnet saam om produktiwiteit op alle vlakke te verhoog. Daar word onder meer gekyk na vrugtevloei-inligting, ekstra laaipunte en deurnag-laaiprosedures. Ons hoop om binnekort samesprekings met Transnet se bestuurspan te voer sodat daar ook gemeenskaplike oplossings vir die medium- en langtermynprobleme gevind kan word.”