
“Dinge verloop beter as verlede jaar, hoewel dinge nog nie rooskleurig lyk nie. Ons moet werk met wat ons het, en seker maak ons kry ons vrugte binne ’n redelike tyd op die mark,” het me. Mariëtte Kotzé, groep- bedryfsbestuurder by Hortgro, tydens ’n mediadag van dié organisasie gesê.
Sowat 90% van die Suid-Afrikaanse kern- en steenvrugte-uitvoeroes verlaat die land deur die Kaapstadse hawe. Die res word deur die hawens in Gqeberha en Durban hanteer. Verlede jaar het gebrekkige toerusting, trae arbeid, ongunstige klimaatstoestande, sabotasie, stakings en swak bestuur uitvoerders lelik gepootjie, met groot vertragings wat tot reuse-verliese gelei het.
Die infrastruktuur het ook gesteier onder die groot oes, want die sagtevrugte-oes het van 2020 tot 2021 met 15% gegroei. Dié neiging word al die afgelope vyf jaar waargeneem. Bykans 46% van die totale kern- en steenvrugoes van sowat 2 miljoen ton vrugte word na 88 lande uitgevoer. Suid-Afrika word beskou as die wêreld se agtste grootste uitvoerder van sagtevrugte.
“Ons gaan nie die probleme in die Kaapstadse hawe oornag regruk nie; daarvoor het ons miljarde nodig, maar ek glo daar is ’n opbouende poging van die bedryf, die varsprodukte-uitvoerdersforum en Transnet om werkbare oplossings te vind,” sê Kotzé.
Volgens haar geniet dit vanjaar voorrang om kommunikasiekanale oop te hou, seker te maak daar is genoeg hyskrane wat werk in die hawe, en dat alle prosesse so doeltreffend moontlik is.
“Verlede jaar kon hulle net twee skepe op ’n slag laai. Vanjaar kon hulle darem al drie op ’n slag laai. Ons het ’n bykomende hyskraan van Durban af ingebring en die veeldoelige terminaal het ook twee bykomende hyskrane gekry, waarmee kleiner skepe gehelp kan word.”
Mense en onderdele is ook nou in die hawe teenwoordig. As iets breek, behoort dit vinniger reggestel te kan word.
Wind, mis en produktiwiteit in die hawe bly egter ’n probleem.
“Tussen Kersfees en Nuwejaar het mense nie opgedaag om in die hawe te werk nie. Dit het ’n invloed gehad op die skepe en opeenhopings op ander plekke veroorsaak. Die mark kan net sekere volumes op ’n slag hanteer en as die voorraad te lank staan, kan dit tot gehalteprobleme lei.”
Oor die lange duur ondersoek die bedryf ’n model van privatesektor-deelname om seker te maak daar is genoeg toerusting en masjinerie in die hawe.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.