
Baie minder gouda- en cheddarkaas is in die eerste vyf maande van vanjaar ingevoer vergeleke met die ooreenstemmende tyd verlede jaar.
Die Melkprodusente-organisasie (MPO) sê in sy weeklikse nuusbrief die 92 ton gouda wat van Januarie tot Mei vanjaar ingevoer is, was 71% minder as die 321 ton in dieselfde tydperk verlede jaar.
Die invoervolume van chedder het met 57% van 935 ton tot 339 ton gedaal.
“Die daling in gouda- en cheddarinvoer word aan baie hoë internasionale pryse toegeskryf, tesame met die verswakkende rand, wat invoer nie-winsgewend maak,” luidens die nuusbrief.
Mnr. Bertus de Jongh, besturende direkteur van die MPO, sê dalende invoer sal verdere druk op Suid-Afrikaanse voorrade plaas en kan tot hoër verbruikerspryse vir suiwelprodukte lei.
Dit kan vir melkboere hoër pryse vir hul melk meebring, maar aan die ander kant laat die swak rand ook die koste van hul produksiemiddele styg, sê hy.