By die tweede jaarlikse ontmoeting tussen die landbou en verskeie Wes-Kaapse ministers op Worcester, is ’n hele rits nuwe probleme waarmee boere daagliks stoei op die agenda geplaas.
En me. Helen Zille, die Wes-Kaapse premier, het gewaarborg dat elkeen van daardie probleme die kabinetslede se aandag sál geniet.
Nuwe sake op die agenda
Terwyl probleemdiere, wildboerdery en kratkarlisensies verlede jaar die botoon gevoer het, is sake oor onderwys, heinings langs paaie, die beeld van die landbou, gaseksplorasie en kabeldiefstal vanjaar onder die Regering se aandag gebring.
Benewens die sakesektor, is die landbou die enigste bedryf wat bevoorreg genoeg is om só ’n vergadering met die Wes-Kaapse kabinet te kry.
“Die sektor dra 21% van die waarde van Suid-Afrika se landbouproduksie by en sorg vir 45% van die land se landbou-uitvoer. Die landbou speel ’n kernrol in die landelike omgewing en skep werk vir meer as 121 000 mense in die provinsie,” het Zille die belangrikheid van die bedryf opgesom.
Botsende wetgewing
Mnr. Cornie Swart, voorsitter van Agri Wes-Kaap, het onder meer gesê boere ondervind probleme met die botsende wetgewing oor brandbane en omgewingsbewaring. Hy sê boere is ook bekommerd oor die herstel van riviere en infrastruktuur ná natuurrampe.
Hy het onder meer gevra dat die ramphulp vir vloedskade in die Hexriviervallei in 2007 uitgesorteer word. Ander probleme is die heinings langs die provinsie se paaie, gaseksplorasie en prospektering wat toeneem en die uitsluiting van die landbou in belangrike beplanningsforums. Tolpaaie, die behuisingsnood van plaaswerkers, aksynsbelasting en landelike veiligheid is ook op die agenda geplaas.
Beter leierskap bepleit
Vanaf die United South African Agricultural Association (USAAA) se kant het mnr. Trevor Abrahams gepleit vir beter leierskap, samewerking in die landbou en die instandhouding van toegangspaaie. Mnr. Ivan Cloete van Afasa meen bestaansboere moet groter ondersteuning geniet.
Zille het belowe elke probleem wat op die vergadering geopper is, sal aandag geniet.
“Ek dink dit was ’n ongelooflik goeie vergadering en ek is baie bly die mense praat eerlik en opreg, want dan kan ons die probleme onder die loep neem. Baie van die probleme is vanjaar anders, wat beteken ons het verlede jaar se probleme suksesvol opgelos. Ek glo ons kan elke jaar ’n bietjie verbeter,” het die Premier gesê.
19 Oktober 2011