
Die groep is egter vol moed dat hy sy mediumtermynteiken van ’n saamgestelde jaarlikse groeikoers van 15% sal bereik, selfs al hou beurtkrag aan teen dieselfde gemiddelde koers as in Desember.
“Ons is gelukkig om dit te kan sê, want ons besigheid is gesond. Ons sien daarom uit na gesonde groei. Ons het ook ingrypings gemaak om die beurtkrag-storm te versag,” het mnr. Sean Walsh, uitvoerende hoof van die KAL Groep, op die maatskappy se jaarvergadering in die Paarl gesê.
Die KAL Groep se herhalende wesensverdienste het in die eerste drie maande van die boekjaar met 30,9% gegroei, veral danksy ’n goeie winsprestasie en doeltreffende kostebestuur.
Uitgawes styg weens beurtkrag
Volgens Walsh het beurtkrag in die eerste kwartaal van die huidige boekjaar ál die voorafgaande jare se gesamentlike koste oortref.
“Die verlies aan inkomste is onmoontlik om te bepaal. Die invloed van verhoogde koste en kapitaalbesteding dwing jou verdienstes afwaarts.”
Die KAL Groep se uitgawes het met 2,5% gegroei in die eerste kwartaal van die huidige boekjaar. Die maatskappy het in die drie maande R15,9 miljoen bestee aan kragopwekkers, die onderhoud en waardevermindering daarvan, en om kragopwekkers te huur.
“Sonder die koste weens beurtkrag sou ons uitgawes 1,8% minder gewees het as verlede jaar.”
Tog glo Walsh die KAL Groep is ligter getref as ander kleinhandelaars in die snelbewegende verbruikersgoedere-segment, waar dit ’n impak van 12-18% op hul verdienstes kon hê.
“In ons geval was die invloed op verdienste waarskynlik sowat 3% in ’n landelike Agrimark en 11% by ’n intensiewe Peg-perseel. Gegewe wat ons weet tot einde Desember, sal die invloed op 6% eindig, maar ongelukkig was Januarie reeds erger as Desember.”
Geriefswinkels floreer
Beurtkrag het ook ’n invloed op die KAL Groep se klante, met “beurtkrag wat boere se gesprekke oorheers”.
“As jy ’n boer is wat aan Suid-Afrika moet kos verskaf, probeer jy net die koste van beurtkrag dra. Ons ervaar dat dit die enigste ding is wat hulle doen, hulle bestee op niks anders nie.”
Die vrugte- en wynbedryf, sowel as die koring-, gars- en kanola-bedryf vanjaar verwag kleiner oeste.
Boonop is die selfdoengier wat die land tydens en ná covid-19 beetgepak het, verby. Inflasie en die hoë brandstofprys demp verbruik en rentekoerse lei tot verhoogde verbruikersdruk.
Die een ligpunt is Peg Retail Holdings, wat uit vulstasies en geriefswinkels bestaan, wat die maatskappy onlangs bekom het. Dié verkryging sal vanjaar ’n bykomende nege maande se winsgewendheid meebring.
“Geriefswinkels en kitsdiensrestaurante presteer teen hoër vlakke as voor die covid-19-pandemie, en selfs as verlede jaar. Ons glo dis omdat dié handelaars oop is tydens beurtkrag en baie huishoudings kan nie veel aan beurtkrag doen ten opsigte van kragopwekking nie. Hulle koop dus eerder gereed-om-te-eet-etes, in elk geval meer as wat hulle in die verlede sou.”
Strategie
As teenvoeter vir die probleme weens beurtkrag sal die maatskappy herbesin oor waar kapitaal bestee word. Dit sal waarskynlik eerder aangewend word om hernieubare of alternatiewe energieverskaffing, soos batterye of sonkrag, te bekom. Hulle bedink ook hul handelsure op sekere plekke en het ‘n nie-amptelike verbod geplaas op die vul van vakante poste. Voorts word nie-noodsaaklike koste, soos reisuitgawes, met ’n ferm hand bestuur.
“Ons volg ’n aktiewe benadering tot die kwessies. Die langtermynvolhoubaarheid van die besigheid sal verseker word deur die sterkte van ons balansstaat en die mate waartoe ons kontantvloei bestuur.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.